Verlede maand
Man in hof ná kid (4) se dood
TONEEL: Mediese en noodpersoneel het hulle na die area gehaas vir bystand.  ~ Foto Verskaf

’N MAN is vir die moord van ’n vierjarige seuntjie gearresteer.

Die verdagte is na bewering die kind se pa.

Die beweringe is dat die pa die outjie doodgeslaan het.

Dié voorval het Vrydag in Darwin-weg naby Buh-Rein Estate in Kraaifontein gebeur.

Die seuntjie se ouers het na bewering baklei en hy is tydens die voorval noodlottig beseer.

Dokter

Luidens ’n verklaring van die sekerheidsmaatskappy Titanium Securitas het sy mediese reaksiespan verskeie oproepe ontvang oor ’n kind wat nie ’n polsslag het nie en sy bewussyn verloor het.

Hoewel die mediese span en ’n dokter wat van diens af was die seuntjie weer bygebring het, is hy later die dag in die hospitaal oorlede.

Luidens die verslag het hul personeel kort ná 06:00 oproepe oor die voorval ontvang.

“Ons het ons ambulans en alle resources wat beskikbaar was na die toneel uitgestuur.

“By hul aankoms op die toneel het ons mediese span, tesame met ’n dokter wat van diens af was, suksesvol die jong kind bygebring.

“Daar was ’n polsslag en hulle het die kind op die toneel gestabiliseer voordat hy vir dringende sorg na ’n nabye hospitaal toe is.

“Volgens die inwoners het hulle ’n commotion gehoor wat soos ’n domestic dispute geklink het.

“Die kind is glo gedurende dié besigheid beseer.”

Titanium Securitas het die dokter, wetstoepassingsbeamptes en die plaaslike buurtwag vir hul bystand op die toneel bedank.

’n Woordvoerder van die polisie, kapt. FC van Wyk, het bevestig dat die polisie die sterfte van ’n vierjarige seuntjie ondersoek wat Vrydag plaasgevind het.

Van Wyk sê ’n moordsaak is by die Kraaifontein-polisie se eenheid belas met gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksmisdrywe geregistreer.

Hy sê verder: “ ’n Man (28) is Sondag op aanklag van moord gearresteer.

“Die verdagte het reeds Maandag in die Blue Downs-landdroshof verskyn.

“Die saak is uitgestel vir verdere ondersoek.”

Volgens Van Wyk sal die verdagte in aanhouding bly en op 8 Maart weer in die hof verskyn wanneer hy na verwagting om borgtog sal aansoek doen.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters