13 dae gelede
Man in hof ná amper 9 jaar
Denzil Daniels  ~ Foto Verskaf

DIE wiele van geregtigheid draai vir ’n familie van ’n vermeende tikkop wat na bewering deur ’n polisiereservis doodgeskiet is.

Jamiel Spannenberg, ’n voormalige polisiereservis by die Delft-polisiestasie, loop tans hof vir die moord op Denzil Daniels (26) in September 2012.

Spannenberg was lid van Delft se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF).

Volgens Daniels se oom William Lackay het Spannenberg ’n week gelede in die Blue Downs-landdroshof op ’n klag van moord verskyn.

Daniels se ma, Hannah, het die polisie gebel oor hy haar meubels in die huis breek.

Na verneem word het hy tik gebruik waarna hy die sitkamerstel se banke stukkend gesny en ook die TV flenters gegooi het.

Hy het ook sy suster daai Saterdagaand met ’n mes gedreig.

Sy ma het vier jaar ná die voorval afgesterf.

Son het destyds berig Daniels het verskeie kere gedreig om sy ma dood te maak. Sy het die cops gebel om hom te kom opsluit.

Die cops het egter te lank gevat. Sy het toe na die Delft-polisiestasie gegaan om ’n saak te maak.

Sy het nog in die aanklagkantoor gesit toe sy die tyding kry dat ’n cop haar seun in Victoriastraat, Kalkfontein, doodgeskiet is.

Die cops het Daniels glo by hul huis in Kalkfontein gaan soek terwyl sy ma by die aanklagkantoor was.

Hy was nie by die huis nie en een van die familie­lede het die cops gaan wys waar Daniels is.

Gejaag

Een van die cops het na bewering gesê: “Vandag gaan ek die vark kry.”

Daniels het by ’n huis in Victoriastraat uitgekom en een van die cops het by die Tyre Centre gestaan.

DESTYDS: Só het Son in 2012 oor die gebeure berig. Foto: Verskaf

Die cop het Daniels­ gejaag en ’n skoot in die grond afgeskiet. Hy het na bewering daarna ’n skoot afgevuur wat Daniels in die rug getref het.

Daniels is op die toneel dood.

Volgens Lackay is Spannenberg ná die skietvoorval gearresteer, maar die saak is teruggetrek.

Lackay sê: “Opod het weer die saak opgetel nadat ’n nuwe ondersoekbeampte op die saak begin het.

“Twee van die getuies in die saak is al dood. My dogter is een van die getuies wat verlede week in die hof getuig het.”

Past. Charles George van die Delft-gemeenskapspolisiëringsforum, sê Spannenberg was betrokke by die GPF en bevestig die hofsaak.

Die saak is tot 30 Augustus uitgestel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters