2 maande gelede
Man in dock wil deal maak
nr. 2: Marlon Neehuis wil skuld erken.FOTO verskaf  ~ 

NOU wil nog een van die beskuldigdes in die Ezra Daniels-moordsaak ’n pleit­ooreenkoms met die staat aangaan.

Marlon Neehuis se regsverteenwoordiger het gister bevestig sy kliënt wil hierdie roete volg.

Dit kom minder as ’n week nadat sy medebeskuldigde Tasliem Bianchi verlede week vir effektief 25 jaar tronk toe gestuur is nadat hy ’n pleitooreenkoms geteken het.

Bianchi is na bewering ’n leier van die Junky Funky Kids van Parkwood.

Hy het op al sewe klagte skuld erken. Die klagte sluit een van moord in.

Die sewejarige Ezra is in September 2017 dood nadat hy in bendes se kruisvuur beland het terwyl hy en ’n maatjie oorkant hulle huis in Abdullah Moosa Road gespeel het.

Die ander aanklagte teen Bianchi het ingesluit twee van poging tot moord, een van die besit van ’n vuurwapen, een van die besit van die onwettige ammunisie en drie wat te doen het met die oortreding van die Prevention of Crime Act (Poca).

Neehuis word beskuldig van een oortreding van die Poca, die moord op Ezra, twee van poging tot moord, die besit van ’n vuurwapen en een klag van die onwettige besit van ammunisie.

Regter Rosheni Allie het aan Neehuis gesê hy moet so vroeg moontlik met sy regsverteenwoordiger en/of regspan saamwerk wanneer daar enige besprekings is.

Allie het hom gewaarsku: “Onthou dat niemand jou kan boelie of forseer om saam te stem met die ooreenkoms nie.

“Onthou ook, ’n pleitooreenkoms beteken nie dis ’n deal in terme van vonnis­oplegging nie.

“Die hof kyk individueel na elke beskuldigde en die rol wat elkeen gespeel het.”

Sy het verder gesê: “Daar is geen one size fits all sentence nie. Daar word af­sonderlik na elke vonnis­oplegging gekyk.”

Intussen is Ezra se ouers, Theodore en Desiree Daniels, ongelukkig oor hoe die saak gehanteer word.

Terugbring

“Ons is teleurgesteld in die staat. As die staat die pleit aanvaar, gaan die ander drie vry kom,” beweer Theodore.

Kelly Daniels, Ikeraam Bian­chi en Kimberley Solomons staan ook tereg.

’n Hartseer Desiree sê niks gaan haar kind terugbring nie. Sy bly nou net glo “what goes around, comes around. God is altyd in beheer.”

Die moordsaak gaan vandag voort.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters