3 maande gelede
Man hoor oor bail ná moord
BESKULDIGDE: Melvin Volkwyn is glo laaste saam met Orderick gesien. FOTO’S VERSKAF  ~ 

NOG ’n aanklag kan in die Kaapse hooggeregshof by die dossier oor Orderick Lucas (1) se moord gevoeg word.

Die lyk van die kind van Melton Rose in Eersterivier is vroeg in April in ’n drein gevind nadat hy nege dae vermis is.

Sy ma se gay tjommie Melvin Volkwyn (40) staan reeds tereg vir sy ontvoering, moord en ’n aanklag van regsverydeling.

Volkwyn hoor vandag of hy op borgtog vrygelaat gaan word.

In sy borgtogaansoek het hy aangedui hy gaan onskuldig pleit op al die aanklagte.

Sy regsverteenwoordiger, Crystal Paulse, voer in die aansoek aan die staat het ’n swak saak. Sy meen die saak is op omstandigheidsgetuienis gebou en niks bewys bo redelike twyfel dat Volkwyn skuldig is nie.

Die oorsaak van Orderick se dood kon weens erge ontbinding nie bepaal word nie.

Die staat sê in sy verweer Volkwyn is die enigste een wat kennis dra van Orderick se laaste oomblikke omdat baie mense die kind die laaste keer lewend in sy sorg gesien het.

Orderick se ma, Davideen Lucas, sê sy ook het die kind by hom gelos. Nog ’n ooggetuie staaf Lucas se weergawe.

Nathan Adriaanse, die staatsaanklaer, het die hof herinner dit is nie ’n uitgemaakte saak dat Orderick aan natuurlike oorsake dood is nie. ’n DNS-verslag is nog uitstaande.

Dié verslag sal die besluit oor die ekstra aanklag bepaal.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters