5 dae gelede
Mamre se mense moet sê
WAARDEVOL: ’n Gedeelte van Mamre se erfenis.  ~ Foto Verskaf

MAMRE. – Inwoners het nou die geleentheid om insae te lewer oor die toekoms van hul dorp.

Dit kom ná die ruimtelike ontwikkelingsraamwerk vir die geskiedkundige sendingdorpie deur die Stad Kaapstad bekendgemaak is.

Mamre, wat in die 1800’s rondom die Morawiese sendingstasie ontwikkel het, het enorme erfeniswaarde wat terugstrek na die 1700’s toe die dorp nog Groenekloof was en is geleë op die noordelike grens van die Stad.

Marian Nieuwoudt, burgemeesterskomiteelid vir ruimtelike beplanning en omgewing, sê die bedoeling van die raamwerk is om rigting te gee vir ruimtelike en beleggingsbeplanning vir Mamre.

“Mamre is ’n baie spesiale en unieke dorp wat ryk is aan geskiedenis, kultuur en natuurlike erfenis.

“Dis ’n dorp waar die inwoners diep gewortel is en ’n aktiewe rol speel om die gemeenskap op verskillende maniere te ver­beter.

“Mamre is ook die poortdorp na die Stad vanaf die Weskus en Bolandstreke.

“Dit is om dié rede dat die Stad die behoefte gesien het om ’n plaaslike buurtplan op te stel wat die toekomstige groei van Mamre op die beste manier kan lei.

“Ons wil nie hê Mamre moet net ’n gehaltedorp wees waar dit goed is om te bly of wat goed is om te besoek nie, maar ook ’n dorp wat werksgeleenthede bied en beleggings lok,” sê Nieuwoudt.

Inwoners het tot 31 Oktober om insae en kommentaar te lewer op die Stad se visie vir Mamre.

Nieuwoudt beloof dat insette deel van die Stad se oorwegings sal vorm wanneer die konsepraamwerk afgehandel word.

“Ek moedig alle inwoners, gemeenskapsleiers en belanghebbendes in Mamre aan om aan dié proses deel te neem.

“Die hoofdoel van hierdie raamwerk is om inwoners se lewens­gehalte te verbeter. Ons wil eerlikwaar alle voorstelle sien wat inwoners het,” sê Nieuwoudt.

Oordrag

Die sendingdorp is onderhewig aan die Wet op Transformasie van Sekere Landelike Gebiede, nr. 94 van 1998, waardeur die meentgrond aan die Mamre-vereniging vir gemeenskaplike eiendom (MVGE) oorgedra is.

Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het die oordrag van die meentgrond na die MVGE in Julie 2013 afgehandel en die grond is nou in die besit van die Mamre-gemeenskap.

Die MVGE, Stad en ander leierskorpse het Donderdag 9 September aanlyn ver­gader oor die raamwerk en die gemeenskap sal ingelig word oor wat bespreek is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters