2 maande gelede
Mamma: ‘Toe wag ons vir vlamme’
Ntefaleng Lethetso (36) sê sy het genoeg gehad van haar moeilike lewe. Foto: Shantel Moses  ~ 

SY WAS sat daarvan om haar man se seksslaaf te wees.

Toe steek sy die hokkie aan die brand – met haar en die kinders binne-in.

Dit is die getuienis van Ntefaleng Lethetso (36) van Pholile Park in die Strand.

Dié ma van drie loop hof vir die branddood van haar baba, Relebonhile.

Sy staan tereg op aanklagte van brandstigting, poging tot moord en moord.

Lethetso sê haar oudste kind was ’n jaar en ’n paar maande oud en haar baba net drie weke oud toe sy en haar man op 17 April 2017 baklei het.

“Dit was die Maandag ná Goeie Vrydag. Ek het my man, Lehlohonolo Lebelo, wakker gemaak en gesê hy moet opstaan. Die baba het nie nappies gehad nie en hy moes geld gaan trek.”

Lethetso sê Lebelo wou nie opstaan nie.

“Hy het my vermaak en gesê as ek hom seks gee, sou hy die geld gaan trek.”

Dis toe dat die hel losbreek en hulle begin fight het.

Lethetso sê hulle het gereeld gefight as sy nie seks wou hê nie. Haar man wou dit minstens een keer elke dag hê.

Op die betrokke dag het sy teen hom opgestaan en hom teruggeslaan.

“Maar hy het die upper hand gehad. Ek het toe die cops gebel.”

Sy sê die cops het nooit uitgekom nie en haar man het ook nie opgehou om haar te slaan nie.

Hy het gedreig om haar dood te maak.

“Ek het by die hokkie ingehardloop en my en die kinders toegesluit. Ek het net daar besluit ek het genoeg gehad van my moeilike lewe en besluit om my en my kinders uit te brand.”

Sy het paraffien oor haar en die kids gegooi en in die hokkie.

“Toe steek ek met ’n vuurhoutjie die plek aan die brand.

“Ek het my baba op die bors gesit en die ander een het agter my op die bed gestaan.

“Daar het ons vir die vlamme gewag.”

Lethetso en die oudste kind is uit die brandende hokkie gered. Die baba het doodgebrand.

Sy sê sy het gedink haar baba is ook uit die brand gered en is eers later deur die polisie ingelig die baba is dood.

Die egpaar het intussen nog ’n baba, wat op 1 Julie gebore is. Regter Mushtak Parker wou by Lethetso weet hoekom sy ná die voorval steeds by haar man is.

“Ons het ná die voorval gesit en praat. Ons het saam besluit om te werk aan ons huwelik en ook om nog ’n kind te hê. Ek is lief vir hom en wil nie sonder hom lewe nie.”

Parker het beveel dat Lethetso vir observasie moet gaan. Die saak kom weer op 22 Oktober in die Kaapse hooggeregshof voor.

Volg Shantel Moses op Twitter.

Stuur nuuswenke aan info@son.co.za.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters