2 maande gelede
Maak kids sag vir skooldag 1
MIS HUIS KLAAR: Jy moet jou kleinding emosioneel voorberei vir skool.  ~ Melinda Stuurman

DIS die dag voordat jou kleintjie terug hok toe – ag, ek bedoel skool toe – moet gaan.

Nie net moet jy sorg dat die uniform gewas en gestryk, en die skoolbehoeftes gekoop en gepak is nie, jy moet jou kleinding ook emosioneel voorberei vir die skool.

Die belangrikste is dat ons ons kinders moet opgewonde maak oor hulle nuwe skooljaar sodat hulle dit positief en opgewonde sal binnegaan.

Hier is ’n paar wenke van reviewonline.co.za oor hoe om paraat te wees vir die groot dag:

  • Skakel jou kind se videospeletjies of die TV af. In die vakansie raak kinders vasgenael voor die TV. Verminder die hoeveelheid TV per dag stelselmatig en laat hulle meer lees of buite speel sodat hulle die gewoonte van TV kyk of videospeletjies speel vroegtydig voor skool begin afleer.
  • Sit alles vanaand reg sodat dit nie die eerste oggend ’n gejaag is nie. Dit sal bydra dat almal nie op mekaar se senuwees werk nie.
  • Kinders kan self hul skryfbehoeftes in hul tas pak en só seker maak dat die regte skryfbehoeftes gepak is vir die nuwe skooljaar. Bespreek met jou kind hulle eerste skooldag en wat hulle kan verwag.
  • Lees vooraf deur enige belangrike skool­inligtingstukke. Weet wie jou kind se nuwe onderwyser/onderwyseres is en teken vroegtydig belang­rike datums vir die jaar aan sodat jy jou jaar­beplanning kan doen.
  • Onthou om vanaand vroeg te gaan slaap. Kinders het kwaliteit-slaap nodig om hul brein optimaal te laat funksioneer. Wees voorbereid dat daar dalk ’n paar trane kan wees, maar laai jou kind met selfvertroue af, want juffrou is heeltemal bekwaam om dit te hanteer.
  • ’n Nuwe skooljaar kan baie uitdagend vir ’n kind wees. Dit is ons as ouers se plig om hulle nie net betyds by die skool te kry nie, maar óók om elke kind emosioneel voor te berei.

Gesprek

Positiewe versterkings is baie belangrik. Woorde soos “jy maak my trots”, “jy is belangrik” en “ek glo in jou”, maak ’n massiewe verskil in ’n klein kinderhartjie.

  • Vra jou kind uit oor die dag, maar hou die gesprek positief. Praat oor hul nuwe juffrou en die nuwe werk wat voorlê om ’n positiewe verwagting te skep. Kom weer in roetine: Slaap vroeg en staan vroeg op. Hersien die kennis en vaardighede wat die kind al aangeleer het. Betrek die kind by voorbereiding en die aankoop van nuwe skryfbehoeftes sodat die gedagte van skool toe gaan weer insink.
  • Jou kind se veiligheid is baie belangrik. Wanneer jy jou kind af- en oplaai by die skool, moet jy aan jou kind mooi verduidelik presies waar en wanneer jy hom of haar gaan kry. Dieselfde geld vir wanneer jy met jou kind skool toe stap. As jy jou kind nie self skool toe kan neem nie, kry iemand betroubaars, iemand wat altyd jou kind se veiligheid eerste sal plaas. Raai jou kind ook aan om nooit alleen te loop nie, maar dat hulle in groepies saam moet loop.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters