Verlede maand
Ma wys die vinger na eks-berk
SY JOB: Abigail Ruiters het getuig dit was Peters se verantwoordelikheid om na die kinders te kyk.  ~ Peter Abrahams

AMEERUDIEN Peters ontken dat hy Jeremiah Ruiters aangerand of vermoor het.

Dít het sy regsverteenwoordiger, adv. Alan Koester, gister in die Kaapse hoog­geregshof aan die 17 maande oue baba se ma, Abigail Ruiters, gestel.

“Wie anders kan dit wees? Daar was niemand anders nie,” het Ruiters getuig.

Peters en Ruiters staan albei tereg vir die moord op die seuntjie. Hy is op 12 Junie 2017 by die Factre­ton Kliniek dood verklaar nadat Peters met hom daar opgedaag het.

Hulle staan ook tereg vir die mishandeling van sy twee ouer sussies, Kiana en Zara.

Ruiters het laas week begin getuig.

Sy hou vol sy het geen van Jeremiah se beserings toegedien nie.

Sy het ook getuig die kinders was in Peters se sorg en dat hy verantwoordelik was vir die kinders en die skoonmaak van die huis terwyl sy sewe dae per week gewerk het.

Koester het dit ook aan Ruiters gestel dat sy kliënt ontken dat hy Jeremiah gemolesteer of verkrag het.

Sy het geantwoord: “Hy sal alleen weet.

“Hy was alleen in die kamer met Jeremiah, soos Kiana kom getuig het. Daar was niemand anders daar nie.

“Dan moet dit Kiana en Zara wees? En dit kan nie wees nie.”

Intussen het die staatsaanklaer, adv. Maria Marshall, Ruiters gevra of dit dan nét Peters kon gewees het wat die kind se beserings en dood veroorsaak het as dit dan nie sy was nie.

Hierop het Ruiters “ja” gesê. Sy het verder getuig haar kinders beteken vir haar alles en dat sy alles in haar vermoë gedoen het om hulle te beskerm.

“Ek sal nooit my hande soos dít aan hulle gesit het nie,” het sy getuig.

Ruiters het ook getuig oor die oggend voordat Jeremiah dood is. Sy het gesê sy het sy nappy gechange en niks swelling aan sy hande gesien nie. Sy het glo ook geen merke aan sy bene en voete gesien nie.

Marshall het Ruiters gevra of sy Peters steeds liefhet en of sy hom beskerm. “Nee, ek is 100% seker en ek beskerm hom nie,” het sy geantwoord.

Die twee het mekaar in Oktober 2016 in ’n pub in Maitland ontmoet.

Kort daarna het Peters by Ruiters ingetrek.

Familie

Volgens Ruiters het Peters ’n maand of twee later vir haar vertel sy vrou is oorlede terwyl sy swanger was met hulle kind.

Ruiters het nooit enige lid van sy familie ontmoet nie.

“Hy het my vertel hy het nie ’n goeie verhouding met sy suster nie en dat sy ouers oorlede is. Ek het sy susters eers ontmoet toe die saak begin het.”

Die saak is tot vandag uitgestel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters