Verlede maand
Ma voltooi eindelik matriek
NOOIT TE LAAT: Sadieka Abrahams van Bonteheuwel het matriek geslaag met universiteitstoelating.  ~ Foto Verskaf

“JY IS slegs ’n mislukking as jy nie weer wil probeer nie.”

Dít is die inspirerende woorde van die 50-jarige ma van Bonteheuwel wat vanjaar haar matriek met universiteitstoelating geslaag het.

Sadieka Abrahams, tans ’n EPWP-werker, sê dit het alles in 2019 begin toe sy besluit het om haar 30-jarige dogter te ondersteun sodat sy haar matriek kan klaarmaak.

Abrahams vertel sy het eendag die advertensie van die aandskool in Bridgetown gesien en gedink dis ’n goeie idee om haar dogter daarheen te stuur.

“Later het ek saam met haar gegaan en klasse bygewoon,” vertel sy.

Abrahams het toe besluit as motivering wil sy haar matriek ook doen.

“Dit was baie stresvol, maar ek was gemotiveerd om my dogter te ondersteun.”

Dit was egter nie maklik vir die twee nie, want hulle moes saans vanaf Bonteheuwel na Bridgetown loop en dit is baie gevaarlik.

Abrahams sê hulle het in geloof geloop, veral wanneer hulle moes teruggaan huis toe en dis al donker.

Verander

“Ek het maar spuit-spuit met my pepper spray geloop,” lag sy.

Abrahams beskryf die reis as baie uitdagend omdat die skoolkurrikulum oor die jare al so baie verander het.

Vir iemand wat al in 1988 in matriek was, is dit glad nie maklik nie.

“Die gang wars in ons gebied was ook een van die grootste uitdagings.

“Ons kon soms nie klasse bywoon nie oor daar ’n heen en weer bakleiery tussen gangsters was.”

Sy sê hulle moes maar die opofferings maak en by die huis voortgaan met wat hulle by die skool sou gedoen het, al was dit moeilik.

“Dit is baie uitdagend as jy verantwoordelikhede het by die huis en daar is nie altyd stilte om te leer nie.”

Abrahams sê haar dogter het dit nie gemaak nie, maar sy gaan nie opgee nie. Sy het al klaar geregistreer om haar een vak oor te doen.

Abrahams meen ’n mens is nooit te oud om opvoeding te ontvang of jou matriek te voltooi nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters