2 maande gelede
‘Ma’ vir stoutes val ook
Nigel Godongo Foto verskaf  ~ 

“EK IS een dood skuldig.”

Dít was die laaste woorde wat Cynthia Oosthuizen, die godmother vir stout kinders en gangsters in Kalksteenfontein, geuiter het voordat haar harsings met een skoot weggeskiet is.

Oosthuizen (54) is Saterdag in die vroeë oggendure in haar huis doodgeskiet, het sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, bevestig.

Oosthuizen se suster, Felicity Gelderbloem, vertel dat die jongens by verskeie huise in Inkblomstraat geskiet het. “Soos die skote afgegaan het, het hulle geskreeu: ‘Is nog meer terrible!’ ”

Gelderbloem sê haar suster het geen bang haar op haar kop gehad nie en het by die venster uitgekyk.

“Toe sy sien wie die jongens is, wou sy die deur oopmaak, want sy het hulle telkemale versorg en gevoed en sy’t nie gedink hulle sal haar skiet nie.”

Cynthia OosthuizenFOTO Verskaf

Sy sê haar suster het ’n hart gehad vir probleemkinders.

“As hulle ouers hulle uitsmyt oor hulle doen en late, het my suster haar deur oopgemaak.

“Al die kinders het geweet by haar huis sou hulle kos en soms slaapplek kry. Sy was meer daar vir hulle as vir haar eie familie.”

Oosthuizen was die hoof van die huis waar 3 gesinne met altesaam 20 mense op die erf woon.

Begrawe

Die ma van twee seuns en ouma van vyf kleinkinders is een keer in die kop geskiet. Toe die forensiese span haar lyk optel van haar sitkamervloer af, het haar harsings uitgeval.

Haar gesin het dit later in die jaart begrawe.

Gelderbloem sê hulle is al gewoond aan die skietery, maar hulle het nie verwag dat haar suster ook ’n slagoffer sal wees nie.

Gelderbloem se eie seun het oorleef nadat hy laas jaar sewe keer geskiet is.

Bewyse: Die koeëlgat in die deur is getuie van Cynthia Oosthuizen se dood. Foto’s: Peter Abrahams

Haar broer, die bekende sanger James Bhemgee, se seun Nigel Godongo is drie weke gelede doodgeskiet.

Bhemgee was die wenner van SA’s Got Talent 2014.

Gelderbloem sê niemand in die familie is gangsters nie.

“Maar ons het nou gehoor hulle is nie klaar met onse familie nie. Ons lewe in vrees, meestal vir ons kinders se lewe. Hulle moet ons kinders uitlos.”

Die Bishop Lavis Action Community (Blac) sê die eenheid teen gangs het geen verligting in die area gebring nie.

“Die metropolisie is net so nutteloos. Die politieke partye speel games met die arme mense se lewe.”

Blac het gister in samewerking met die West Street Committee ’n gedenkdiens vir Oosthuizen en Janine Nieuwenhuys gehou. Nieuwenhuys is Vrydagoggend in Lavis geskiet.

Rwexana sê twee mans (van 23 en 53) is in hegtenis geneem vir Oosthuizen se dood.

“Hulle sal in die Bishop­ Lavis-landdroshof verskyn wanneer hulle reeds formeel aangekla is.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters