12 dae gelede
Ma vind self seun se lykie
VERDRINK: Jason Nomdo se oudste suster vertel hy was baie lief vir seewater.  ~ Foto Verskaf

NÁ ’N vyf dae lange soektog het die branders van Diaz-strand die lykie van ’n gr. 3- leerder teruggegee.

Jason Nomdo (9) se 21-jarige suster, Jenelle Meyer, vertel haar enigste broertjie se liggaam is Maandag deur hul ma, Katrina Meyer (37), gevind.

Die gebroke suster sê haar ma is steeds in skok. Jenelle sê sy en haar 17-jarige suster probeer hul bes om haar emosioneel te ondersteun.

“Hoewel sy vertroosting daarin vind dat Jason se liggaampie gevind is, was dit ’n groot skok vir haar, want sy en my suster het self op hom afgekom.

“Jason was baie lief vir die seewater. Hy is daai Woensdag saam met ons buurman en twee van sy vriende strand toe.

“Hy het agter ’n rugbybal aangehardloop toe ’n stroom hom intrek en hulle kon hom ongelukkig nie red nie.

“Die soektog het ons emosioneel en fisiek uitgeput,” vertel Jenelle.

Sy voeg by dat Jason haar ma se babatjie was en dat hy altyd daai iets ekstra van haar gekry het.

Sy vertel dat die warm dae sy gunsteling was, want dan was die moontlikheid daar vir ’n uitstappie strand toe.

“Hy was die enigste seun en my ma was baie geheg aan hom.

“Sy was in die week so deurmekaar. Toe wou sy Jason iets maak om te eet. Toe moes ek haar daaraan herinner dat hy nie meer met ons is nie.

“Ons moet haar kalmeerpille ingee wanneer die emosies te veel raak.”

Jenelle voeg by die begrafnisreëlings is nog nie getref nie, maar daar is ’n diens gehou op die plek waar Jason se lyk gekry is.

“Ons het blomme neer­gelê vir hom en wit ballonne in die lug losgelaat by die rotse waar my ma hom gevind het.”

Hotel

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het ook die familie gehelp met ’n uitgebreide soektog in die waters oor die vyf dae, maar kon geen teken van Jason vind nie.

Met die hulp van polisieduikers is daar in die waters van Diaz-strand gesoek tot in die omtes van ’n nabygeleë hotel.

Genevieve Muller, die hoof van Diaz Primêr, sê die eerste dag van die vierde kwartaal was vir die skool diep hartseer.

“Volgens Jason se klas­onderwyser was hy ’n stil en liewe kind wat altyd op sy plek was en nooit probleme gegee het nie.

“Hy was ook gewild onder sy maats en het die skool getrou bygewoon.

“Ons is diep hartseer oor die nuus.

“Maandagoggend toe bid ons nog dat sy liggaampie gevind moet word en die middag toe kry ons die nuus.

“Sielkundiges en maatskaplike werkers is al sedert Maandag by die skool en daar word na die leerders, veral sy groep in graad 3, en die personeellede omgesien.

“Sy graadmaats het briewe aan hom en sy mammie geskryf as deel daarvan om uiting te gee en duidelikheid te skep oor hoe hulle oor sy dood voel.

Gedenkdiens

“Van die onderwysers het ook individuele sessies met sielkundiges gehad en ander gr. 3-leerders se gemoedstoestand word gemonitor deur maatskaplike werkers,” verduidelik ’n bewoë Muller.

Sy sê ’n gedenkdiens sal ook op 20 Oktober by die skool gehou word en Jason se familie sal ook ingesluit word.

Volgens Muller doen video’s die ronde van Jason net nadat hy gevind is en dit is ontstellend vir die familie en leerders.

“Dis ongevoelig, onsensitief en onmenslik om sulke materiaal te versprei.”

Sers. Chris Spies, polisiewoordvoerder, sê die Da Gamaskop-polisiestasie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen nadat Jason se lyk Maandagmiddag gevind is.

“Die polisie se forensiese ondersoekbeamptes was op die toneel om die lyk te ondersoek. ’n Lykskouing sal gedoen word om die oorsaak van die dood te bepaal. Ons ondersoek duur voort,” sê Spies.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters