28 dae gelede
Ma van 4 ‘oor seun vermoor’
ontstelde ma: Patricia Swartz se hart is weer gebroke.Foto:MELINDA STUURMAN  ~ 

’N VROU van Lavender Hill het met haar lewe betaal glo vir haar seun se sondes.

Berenise Nobel (36), ’n ma van vier, is gister in die vroeë oggendure by Pontac-hof doodgeskiet.

Volgens haar ma, Patricia Swartz (51), het haar kleinseun en ’n tjommie van hom glo omstreeks 03:00 haar kom soek en hulle is saam weg van die huis af.

“Ons het die skote gehoor. Dit was baie hard en het naby die huis geklink.

“Ons het voor en agter by die venster uitgekyk, maar niemand gesien nie.

“Ons het nie geweet dit is Berenise wat hulle doodgeskiet het nie.

“Die oggend sesuur het iemand aan die deur geklop en kom sê Berenise is geskiet. Ons was so geskok en het eers ’n rukkie gewag om tot verhaal te kom voor ons gaan kyk het.”

Drugs

“Ons is baie hartseer. Dis my derde kind wat so vermoor word. Die afgelope twee en ’n half jaar is my een seun doodgeskiet en nog een is doodgesteek.”

Op die toneel is bespiegel dat Berenise afgehaal is oor haar seun na bewering gangsters se geld en drugs gesteel het.

Berenise se familie wou nie op die bewerings kommentaar lewer nie.

Haar familie het haar as ’n lieflike en vriendelike mens beskryf. Volgens hulle het sy by die bure langsaan gebly en was werkloos en sieklik.

Twee van haar seuns is nog op laerskool en haar dogter is ’n gr. 11-leerder.

Die cops het ’n moorddossier aangelê. Niemand is nog gearresteer nie.

  • Die moord kom nadat ’n 18-jarige leerder Dinsdagoggend in Hillview naby Lavender Hill doodgeskiet is.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters