2 maande gelede
Ma-triek en Pa-triek spog

BOUDJIES skoonmaak én boeke vat.

Daar was trane van verligting vir twee matrieks van Lavender Hill toe hulle sien hulle is nie net ouers nie, maar ook propperse matrikulante.

Die matriekpaartjie van die Hoërskool Crestway in Lavender Hill het in hulle matriekjaar ouers geword.

Maar dít het hulle nie gekeer om steeds hard te swot en hulle matriek te voltooi nie.

Waseema de Jager (18) het universiteitsvrystelling gekry terwyl haar boyfriend, Abid Taliep (18), vir ’n diplomakursus kwalifiseer.

Die jong ouerpaar het alles ingesit vir die eksamen. Met ’n babatjie wat vroeg in April 2018 gebore is, het die twee matrieks die beste van die jaar gemaak deur die wakker nagte en nappies change.

“Dit was nie maklik om te konsentreer by die skool met die wete dat jy ’n babatjie by die huis het wat jou aandag nodig het nie,” vertel De Jager.

Die jong ma vertel ook dat dit maar swaar was vir haar om met ’n groot boepmagie skool toe te gaan.

“Dit was baie moeilik om met twee rugsakke te loop. Een voor jou en een agter jou. Almal kyk jou anders aan. Ek het ook baie skoolwerk misgeloop omdat ek na doktersafsprake moes gaan,” vertel De Jager.

Albei het gelukkig hulle familie se ondersteuning gehad. De Jager se ouma het na baba Imaad omgesien terwyl sy studeer het.

Gemotiveer

“My ouma het baie gehelp en binne ’n maand ná die geboorte kon ek terug skool toe gaan,” vertel De Jager.

Die jong pa sê dit was vir hom net so ’n moeilike tyd.

“Voor die swangerskap het ek nie baie gehou van leer nie, maar die baba het my gemotiveer om beter te doen,” sê Taliep.

Hy moes De Jager help met die skoolwerk wat sy gemis het. Taliep het ook skoolwerk vir sy meisie huis toe geneem.

Die paartjie koester nou groot drome en albei wil graag verder studeer.

De Jager wil verpleging swot en Taliep wil in die IT-bedryf werk.

Geeneen van die twee is egter nog by ’n instelling geregistreer nie en albei wag nog vir antwoorde oor beurse.

Hulle besef hulle sal moet verder studeer om vir baba Imaad ’n beter toekoms te kan gee.

“Ons wil nie hê ons kind moet onder dieselfde omstandighede grootword as ons nie,” sê De Jager.

Volgens De Jager se ma, Narienan de Jager (38) was haar dogter al van laerskooldae af ’n A-kandidaat.

Die ma sê: “Ek was baie teleurgesteld en hartseer toe ek uitvind my kind is swanger in gr. 11, maar sy het die beste daarvan gemaak.

“Vandag is ek trots op hulle albei.”

Die mammie vertel dat Waseema altyd toegewyd was aan haar skoolwerk.

De Jager sê sy wou nog altyd verder studeer.

“Voor die baba het ek hard geleer vir myself en nou doen ek dit vir my kind.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters