24 dae gelede
Ma skarrel vir begrafnis
Raziel Philander  ~ Foto Verskaf

’N ENKELMA van Steenberg moes haar seun die naweek met donasies en skuldgeld begrawe nadat hy in die Polls­moor- tronk aangerand en vir die dood gelaat is.

Sally Philander se oudste seun, Raziel Philander (40), was verhoorafwagtend vir die besit van moontlik gesteelde goedere.

Hospitaal

Hy is saam met twee ander mans in hegtenis geneem en in Pollsmoor aangehou.

Sally vertel sy is drie dae ná die voorval eers verwittig haar seun is in die Groote Schuur Hospitaal.

“Toe ek daar kom, het ek in die ICU ward gestaan en hom gesoek. Min te weet dat ek heeltyd voor hom gestaan het.

“Ek het my eie kind nie herken nie.”

Raziel was op life support en vol pype. “Sy kop en gesig was dik opgeswel. Hy was drie dae in ’n koma.”

Tracy-Lee Weber, Raziel se niggie, sê haar neef het hulle stemme herken. “As jy in sy oor praat, het die trane uit sy toe oë geloop.”

Raziel was twee weke in die hospitaal.

Volgens sy familie was sy skedel gekraak en is sy brein baie beskadig in die aanval.

“Die dokters het met ’n CAT scan gesien sy beserings is erger as wat hulle gedink het. Volgens hulle is hy met ’n swaar voorwerp herhaaldelik oor die kop geslaan of is sy kop herhaaldelik teen ’n soliede voorwerp gekap.”

Sally sê toe die hospitaal hulle op 29 Oktober gebel het, het hulle geweet dis om te gaan groet.

“Die vorige dag al het hy die doodsroggel gehad. Toe ons uiteindelik by die hospitaal kom, was ons te laat.”

Lewies Davids, ’n woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, sê Raziel is in ’n bendegeveg in die tronk aangeval.

“Sedert dié aanval was daar baie ander tronkgevegte wat gevolg het.”

Hy sê twee mense is reeds aangekla van Raziel se dood.

Sally sê korrektiewe dienste het aangebied om te betaal vir Raziel se kis en die lykwa-dienste.

Onafgewerkte

“Maar toe ek sien hoe hulle my kind se lyk by Soutrivier met ’n trailer kom haal het, was ek geskok.

“By die begrafnisonder­nemer is ook ’n kis gewys wat vir my seun bedoel was. Dit was ’n onafgewerkte kis.

“Ek het maar gaan skuld maak om my kind ’n ordentlike begrafnis te gee.

“Tracey-Lee het ook mense op Facebook gekry om te help met die funeral.”

Sally beplan om stappe teen die polisie en korrektiewe dienste te doen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters