10 dae gelede
Ma se wag vir seun vergeefs
Justin Josephs  ~ Foto Verskaf

DIT is ’n Sondagaand wat geen mammie ooit wil hê nie.

Aan die woord is Char­maine Josephs (54) van Plumstead wat vertel hoe die begin van die nuwe jaar haar in absolute tragedie gedompel het.

“Ek het die aand vir my seun gesit en wag. Ek was seker hy sou huis toe kom, maar dinge het nie so gebeur nie.”

Pleks van ’n klop van haar geliefde seun aan die voordeur, het iemand anders daai aand aangeklop.

Sy onthou die woorde nog so goed: “ ‘Antie is mos Justin se mammie, nè?’

“Ek het toe ‘ja’ geantwoord.

“Toe sê die vrou ek moet saam met haar kom. Justin is dood.”

Josephs onthou die presiese woorde wat nou vir ewig in haar geheue ingebrand is.

Sy sê dis die soort pyn wat ’n mens nie kan verduidelik nie.

Haar tweede oudste kind, Justin (16), is Sondag omstreeks 21:05 op die M5 naby Dieprivier doodgery.

Justin is volgens die polisie op die toneel oorlede. Die vriend saam met wie hy was, is ook beseer.

Josephs sê sy weet nie wat presies gebeur het nie, maar sy soek antwoorde.

“Toe ek daar kom, was sy gesig gecover. My seun het daar langs die pad gelê terwyl ek by ons huis vir hom gewag het.”

Volgens Josephs weet sy nie waar Justin die dag was nie. Sy ken ook nie die “vriend” wat saam met hom was nie.

“Ek het ál sy vriende geken. So, ek verstaan nie. Dis net weird.

“My seun was nie iemand wat verkeerde goed aangevang het nie en as hy dinge gedoen het, sou ek oor dit gepraat het. Maar almal het Justin liefgehad. Die hele blok flêtse se mense hier.

“Hy was almal se kind. Altyd bereid om te help en altyd so vriendelik.”

Josephs se neighbour Shireen Hendricks (59) het haar gister by die hartseer ma aangesluit en dieselfde woorde aan Son geuiter.

“Daai kind was ’n goeie seun. Hy het na sy familie omgesien met die odd werkies wat hy gedoen het.

Trane

“Ons is almal so ontsteld, want tot op hierdie uur weet ons nie wat gebeur het nie en ons weet ook nie wie die drywer was nie.

“Dis ’n seer pyn om jou kind te verloor.”

STUKKENDE HART: Charmaine Josephs, Justin se ma, en Shireen Hendricks voel nou reeds verlore sonder die 16-jarige klong. Foto: Peter Abrahams

Josephs sê in trane sy verlang klaar baie na haar seun. “Ek kan nie verduidelik nie. Ek is hartseer.

“Hy was ’n agtermekaar kind wat baie lief was vir sy skoolwerk en sport.

“Hy wou graag ’n sakeman word sodat hy ander mense ook kon help. Ek gaan sy goeie hart mis.”

Sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval aan Son bevestig en sê ’n saak van strafbare manslag is geopen.

Sy bevestig daar was nog ’n 15-jarige seun betrokke wat in die voorval beseer is.

Sy sê niemand is nog in verband met die voorval gearresteer nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters