Verlede maand
Ma op pad na werk vermoor
Koelbloedig: Die vrou was op pad na haar werk toe die bullets op haar afgevuur is.  ~ _leon knipe

‘N VROU is vroeg Woensdagoggend koelbloedig in Joe Slovo doodgeskiet.

Thandiswa Lingani (37) is op die hoek van Freedom Way en Marinusstraat geskiet terwyl sy op pad werk toe was.

Twee mans het na verneem word uit ’n taxi geklim en op haar losgebrand.

Die voorval het 06:25 gebeur. Die vrou is verskeie kere getref en is op die toneel dood.

Haar boyfriend is drie weke terug ook in Joe Slovo doodgeskiet.

Die motief vir die moord is nog onbekend en dit is onduidelik of dit verband hou met die moord op haar boyfriend.

Volgens ’n familievriend, Nomandi Ndaule, is hulle baie geskok en hartseer oor wat gebeur het.

Ndaule het gesê: “Ons het nie so iets verwag nie. Sy gaan elke oggend vroeg werk toe. Haar vierjarige seuntjie het nog geslaap toe sy die huis verlaat het. Hy huil gewoonlik soggens wanneer sy werk toe gaan.

“Ons het nie eens die skote gehoor nie, maar net die mense wat ons kom roep het. Toe ons op die toneel kom, was sy reeds dood.”

Gekuier

Ndaule het Lingani as ’n opgewekte mens beskryf wat daarvan gehou het om saam met vriende te kuier en gelukkig te wees.

Lingani se ma, wat van die Oos-Kaap is, het die afgelope drie maande by haar gekuier.

Kapt. FC Van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het gesê: “Die vrou was op pad werk toe en is verskeie kere geskiet. Haar selfoon en handsak het langs haar gelê.

“Sy is deur paramedici op die toneel dood verklaar.”

Dit kom kort op die hakke van die regering se bekendstelling Dinsdag van die veldtog van 16 dae van aktivisme vir geen geweld teen vroue en kinders.

  • Nog ’n ma van drie is Sondag in Cafda koelbloedig doodgeskiet.

Sabrina Isaacs (38) het winkel toe gegaan om sigarette te koop toe sy in die gangsters se kruisvuur beland het.

Sy het na verneem word by ’n man gestaan toe jongens vanuit ’n taxi losgebrand het. Drie ander mense is ook in die skietvoorval gewond.

Volgens Van Wyk is die motief vir dié moord ook nog onbekend en is ’n moorddossier aangelê.

Niemand is nog vir die moord gearresteer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters