Verlede jaar
Ma kry TB ná moord op dogter
siek: Juanita Pieters ly ná haar dogter se moord. Foto:Jonathan Lestrade  ~ 

NÁ ’N lang gesukkel het Juanita Pieters eindelik die transportakte van haar ­nuwe huis in Delft geteken.

Maar of sy die vryheid van haar nuwe huis sal kan geniet, bly ’n vraag.

Juanita, mammie van die driejarige Courtney, is in die Brooklyn-borshospitaal met brein-TB en is doodsiek.

’n Bron sê: “Ons weet nie of sy dit gaan maak nie. Dit gaan so sleg dat sy ’n nappy dra.”

Aangekla

Courtney se lyk is op 13 Mei – twee weke nadat sy as vermis aangemeld is – in haar huis in Salberau, Elsiesrivier, gevind.

Mortimer Saunders, die gesin se boarder, is aangekla van haar moord.

Pres. Jacob Zuma het die gesin besoek en besluit om hulle ’n huis te gee. Hy het ook R10 000 in hul hand gestop.

Maar die huis in Delft staan nou al geruime tyd leeg.

Roegshanda Pascoe, die familie se woordvoerder, bevestig Juanita is baie siek.

Sy voeg egter by dat die nuwe huis ’n teken van hoop vir die familie is, maar vra dat mense die familie moet help om meubels en ander huishoudelike goedere te koop.

“Ek voel net dit is ons plig om te help, want op die oomblik het hulle niks,” sê Pascoe.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters