5 dae gelede
Ma ken van koes
Dood: Lorenzo de Kock is vermoor.  ~ Foto Verskaf

“DAAR is al baie, baie, baie kere op my huis geskiet.”

Só het ’n staatsgetuie gister in die Kaapse hoog­geregshof geantwoord toe sy gevra is hoeveel keer daar al op haar huis in Delft geskiet is. Die getuie se naam word beskerm.

“Daar is al ’n petrolbom op my huis gegooi,” het sy getuig.

Volgens haar is die rede vir die skietery en petrolbom dat “hulle” gesê het een van haar vier seuns is ’n lid van die Dixies.

Die getuie is ondervra oor ’n voorval in 2016 toe daar op haar huis geskiet is.

Volgens die getuie was beskuldigde 10, Ziyaad Saa­fodien, by die skietvoorval betrokke.

Saafodien is na bewering ’n lid van die Terrible Jos­ters. Hy is een van 12 vermeende lede van dié bende wat in die Kaapse hooggeregshof op 71 aanklagte teregstaan.

Die getuie het aan die hof gesê sy het beskuldige 10 gesien en drie skote het in die vibracete-muur afgegaan.

Sy het ook getuig haar seun het haar in die skietery gegryp en plat op die grond getrek. Die seun se naam mag ook nie genoem word nie.

Die vrou het getuig dié seun van haar is ’n lid van die 28’s-bende.

Sy het dit geweet omdat sy 28-tatoes op sy skouers gesien het.

Verder het die vrou getuig drie van haar vier seuns is reeds oorlede.

Een van die seuns wat dood is, was Franklin Gabriels. Hy is op 17 Februarie 2013 doodgeskiet.

Dié seun van haar was ’n bendelid. Hy was met die 26’s deurmekaar.

“Hy het eers saam met my gewerk.

“Ná daai het hy op die pad begin drugs verkoop,” het sy getuig.

Haar seun Oswald Gabriels is op 20 Mei vanjaar doodgeskiet.

Volgens die ma was hy nie ’n gangster nie.

“Hy is deur sy girlfriend doodgeskiet. Sy was by ’n gangster betrokke.”

Die ma het bygevoeg Oswald was ’n kerkman en hy het sokker gespeel.

Haar jongste oorlede seun, Lorenzo de Kock, was ’n matriekleerder toe hy op 17 Oktober 2014 geskiet is.

Dit was ’n paar dae voor sy verjaardag.

Hy het nog sy hare laat sny vir sy skool se valedictory event daai aand.

Beskuldigde 1, Horatio Solomon, beskuldige 7, Bradley Roberts en beskuldige 8, Lezay Booysen, staan tereg vir die moord op die laitie.

Ingesit

“Lorenzo was by die kerk by die jeug betrokke. Hy was nie lid van ’n bende nie,” het die ma gesê.

Die getuie het wel gesê haar enigste oorlewende seun het dwelms uit haar huis verkoop en kameras by haar huis opgesit.

Volgens die getuie het hierdie kameras nie video’s geneem nie; dit is vir veiligheid ingesit.

Die saak gaan vandag voort.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters