5 maande gelede
Ma is positief, glo meisie leef
VERMIS: Tazne van Wyk het net spoorloos Vrydagmiddag verdwyn.  ~ Foto Verskaf

AL WAT sy wil hê, is dat haar dogter veilig gekry moet word.

Die vraag op die lippe van talle in die gemenskap is: "Waar's Tazne?

Mammie Carmen van Wyk kry die gevoel dat haar prag­tige meisiekind nog lewe.

Die ag-jarige Tazne het Vrydagmiddag net spoorloos verdwyn nadat sy na ’n tuck shop oorkant haar huis in Connaught Estate gegaan het.

Dié gr. 3-meisie van die Laerskool Eurecon word beskryf as ’n kind wat nie sommer sal wegloop nie.

Sy is laas in ’n rooi-en-wit onesie met ’n rooi-en-wit short gesien.

Carmen sê die laaste positiewe inligting wat sy gekry het, is dat haar dogter saam met ’n man naby Uitsig gesien is.

Die man, bekend as Moyhdian Pangarker (54), is oorspronklik van Durban. Hy het 20 jaar tronkstraf uitgedien en is omtrent drie weke ge­lede vrygelaat.

Hy het toe verblyfplek by sy skoonmense naby Tazne se huis gesoek.

Volgens ’n informant na aan die soektog het Pangarker aan ’n familielid vertel dat hy ’n obsessie met die “mooi meisie” het.

Volgens Carmen het dit toe aan die lig gekom dat Pangarker haar kind by die winkel ge­nader het en hulle is daar weg.

“Ek ken die man van geen kant af nie. Sy familie sê vir my Vrydag het hy ook met een van sy sakke weggeloop en het nooit teruggekom nie.

“Tazne se vriendinne sê die man het ook ’n swart sak op sy rug gehad en die bhai het ook gesê die uncle (wat by haar was) is Moyhdian.”

HOOPVOL: Carmen van Wyk, die mammie, is nog positief oor haar kind.

Die mammie sê daar was ook al baie mense wat haar met valse, negatiewe inligting genader het.

“Hulle sê my dogter is by ’n drug-huis in Parow.

“Ek probeer altyd om positief te bly, want ek het nie ’n vreemde gevoel nie. Ek glo dat sy nog lewe.”

Mense uit gemeenskappe van reg oor die Kaapse Vlakte het Maandag uitgekom om die meisie te help soek.

Daar is in die Malawi Kamp, Freedom Farm, die Airport Industrial Area en selfs die Modderdam Begraafplaas gesoek. 

SKARE: Meer as 1 000 mense soek na die meisie.

Mense was onrustig en al wat op hulle mind was, was om die ou gevang te kry.

Daar was beweringe dat ’n groep die man in die bosse by Freedom Farm gevang het, maar dat hy losgebreek het.

Sukses

Die polisie het toe die bosse naby Erica-rylaan gefynkam vir die man.

Die soektog het die cops weer tot in Parow gelei sonder enige sukses. Die soektog gaan vandag voort.

  • As enige iemand inligting oor die meisie of die man het, kan hulle die polisie of Candice van die Western Cape­ Missings Persons Unit by 082 225 2612 kontak.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters