2 maande gelede
KYK: Ma hoop ‘hel’ is nou klaar
Pynlik: Cathleen van Zyl is baie hartseer oor haar seun se toestand  ~ .Foto’s: JONATHAN LESTRADE

HY HET al gedreig om hom onder ’n trok in te gooi. Elke aand moet hulle onder sy bed kyk of daar nie ’n tou lê waarmee hy hom kan ophang nie.

Vir Cathleen van Zyl (59) en haar gesin van Voorbrug in Delft is die lewe saam met haar skisofreniese seun hel op aarde. Pure hel.

Edwin van Zyl (33) het hom ’n paar maande gelede in sy kamer probeer ophang. Die angs oor hy dit next time dalk kan regkry, hou haar snags wakker.

Vir die Van Zyls voel hul huis soos ’n tronk. ’n Plastiek-tronk, want al wat glasding is, breek Edwin.

Hulle het eens op ’n tyd ’n mooi huis gehad, vertel Cathleen.

“Hy gaan tekere, breek my goed, lig sy hande en baklei met ons. Hy raak aggressief.

“Dit is ’n hel wat ons deurgaan,” vertel sy.

Cathleen sê in 2018 is haar seun talle keer geskiet en ’n jaar later gelem.

“Hy moes vir verskeie operasies gaan en die laaste keer is die operasie uitgestel en ek dink hy kan dit nie verwerk nie en dit maak hom so depressed,” sê sy.

Dwaal

“Hy het vir my gesê hy voel nie meer om te lewe nie en wil sy lewe neem. Dan weet hy hy is vry van sy pyn,” sê die ma.

Sy sê saans is die duiwel behoorlik los in hul huis.

“Hy praat in die aande met homself, hy dwaal, hy praat dinge wat nie sin maak nie. Hy dreig my en daar is tye wat ek in die middel van die nag wakker skrik, dan staan hy voor my met ’n mes.

“Ek is bang vir wat hy aan my of my kinders kan doen, aan homself of iemand in die gemeenskap,” sê sy.

By Son se besoek Donderdag aan die Van Zyl-woning kon die verslagspan duidelik spanning in die huis voel.

In die voorkamer waar die span met die sigbaar hartseer ma gesels het, het dit soos ’n koue tronksel gevoel.

Asvaal mure, ’n groot swart kol op die plafon, vier swart plastiekstoele, ’n kas en ’n bed is onder die meubels in die vertrek.

“My huis is heeltemal afgebreek en ek kan niks doen om dit nou mooi te maak nie. Dis nie worth dit nie, nie totdat my seun hulp kry nie.”

Terwyl Son met die ma gesels, het Edwin vanuit sy kamer geskree. Sonder enige waarskuwing het hy in die gang verskyn, heeltemal naak, met net ’n laken om sy skouers.

Edwin sê toe hy kort hulp en dat hy na ’n inrigting wil gaan omdat hy weet hy veroorsaak sy ma baie pyn en wil hê dit moet stop.

Dit was moeilik om te begryp presies wat Edwin se ma daagliks ervaar as gevolg van sy siekte, maar ná die gebeure Donderdag het Son se verslagspan onmiddellik stappe gedoen om Edwin en sy ma te help.

’n Oproep na Cape Mental Health die Donderdagmiddag is waar alles verander het. ’n Werknemer het vorms via WhatsApp gestuur wat Cathleen moes voltooi.

Omdat sy nie access het tot WhatsApp nie, het die verslagspan dit self laat print en Vrydagoggend na haar geneem.

Sy het die vorms voltooi en vandaar af het die verslagspan haar na die polisiestasie geneem waar dit deur ’n kommissaris van ede gesertifiseer is.

Die kommissaris van ede het sommer ook gereël dat twee polisielede Edwin by die huis oplaai en na die Delft-hospitaal neem.

Rustige

Die verslagspan het die beamptes vergesel.

Die beamptes was baie geduldig en het vir Edwin gewag terwyl hy eers sy skoene aangetrek en ook nog room aan sy arms en gesig gevryf het.

Daarna is almal na die hospitaal en het gewag totdat daar na Edwin omgesien is. Edwin is tans by die hospitaal en sy ma kon vir die eerste keer in ’n lang tyd ’n rustige nag hê.

“Ek hoop dat my kind die nodige hulp sal kry sodat ons almal ’n bietjie vrede kan kry,” sê ’n duidelik verligte Cathleen

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters