3 dae gelede
Ma getuig oor laitie se sterfdag
Abigail Ruiters het by die getuiebank ingeskuif.  ~ Peter Abrahams

“EK HET hom opgetel, vasgehou en gesoen.”

Só het Abigail Ruiters gister in die Wes-Kaapse hooggeregshof getuig oor die dag toe haar babaseuntjie, Jeremiah, gesterf het.

Ruiters staan tereg vir die moord op haar 17 maande oue seuntjie nadat hy op 12 Junie 2017 in die Factreton Kliniek in Kaapstad dood verklaar is.

Ruiters het getuig sy en haar medebeskuldigde, Ameeru­dien Peters, het op dié dag met die kind by die kliniek opgedaag.

Dit was nadat Jeremiah, luidens Peters se getuienis, tuis op die bed gelê en bewe en gesukkel het om asem te haal.

Peters staan ook tereg vir die moord op die babaseuntjie.

’n Klag van kindermishandeling staar albei van hulle ook in die gesig.

Dié klag hou verband met Jeremiah se twee ouer sussies, Kiana en Zara.

Ruiters het gister in trane uitgebars toe sy getuig oor hoe sy uitgevind het haar kind is dood.

Kamer

Sy was daardie dag by die werk en is deur haar bestuurder ingelig om kliniek toe te gaan.

“Toe ek daar kom, toe kry ek ’n meisie wat twee of drie strate van my af bly. Sy het vir my gesê my kind lê in ’n kamer.

“Ek kon hoor hoe mense praat en sê: ‘Daar is die kind se ma,’ ” aldus Ruiters.

Sy het getuig sy’t by die kamer ingegaan en Peters, paramedici en twee nurses gesien.

“Ek het gesien my kind lê daar, maar nog nie geweet hy is weg nie,” het sy getuig.

Ruiters sê Peters het langs haar kom staan en gesê: “Ek het alles probeer.”

Sy getuig: “Ek het toe gesien die kind lyk soos iemand wat slaap. Dit is tóé dat die nurse na my toe kom en sê hulle het alles probeer.”

Neergesit

Ruiters het getuig sy was toe in skok. “Tot vandag kan ek nie glo my kind is weg nie.”

Toe sy haar kind in haar arms hou, het hulle vir haar gesê om die kleintjie neer te sit.

“Ek wou hom nie neergesit het nie. Ek het hom gevra om sy oë oop te maak,” getuig sy.

Ruiters het voorheen in haar getuienis genoem Jeremiah was daardie oggend in ’n perfekte toestand en daar was net mooi niks met hom verkeerd nie.

“Ek het nog vir hulle (sy sussies en Jeremiah) gesoen en geld vir Kiana gegee sodat hulle luxuries kon koop,” het sy in die hof vertel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters