4 dae gelede
Lyk opgelight
eerie: ’n Forensiese lid moes water op die liggaam gooi om dit te blus.Foto’s: melinda stuurman  ~ 

DIE kinders het gedog dis ’n pop wat in die gat lê en uitbrand.

Dit was toe heeltyd iemand van vlees en bloed.

Gister in Vygieweg oppie Bult in Bishop Lavis was mense geskok nadat dit rugbaar geraak het dat dit inderdaad ’n mens is wat in die gat op die oop stuk veld lê en smeul.

Nog meer vrae het ontstaan toe dit bekend word dat die brandende mens se hande agter die rug vasgebind was.

Kinders sê hulle het in die gat gekyk en iets gesien. Met die onskuld van ’n kind het hulle toe gedog dis ’n pop wat daar lê. Die kinders het ’n volwassene gaan roep om te kom kyk wat aangaan.

Die man het by die gat gebuk en teen die skedel gekap. Tóé besef hy dis ’n mens.

Inwoners vertel hulle het gisteroggend rook sien trek uit ’n gat in die grond.

Eers later het hulle besef iets baie leliks is daar verkeerd.

Van die forensiese beamptes het gister op die toneel gesê hulle kan nie sê of dit ’n man of ’n vrou is nie omdat die liggaam onherkenbaar verbrand het.

Water moes gebruik word om die gesmeul te stop voordat die lyk uit die gat gehaal kon word.

Daar was nie vlamme nie, maar rook het die hele tyd van die lyk af getrek.

Inwoners met wie Son gepraat het, het geen idee wie die slagoffer is nie. Hulle het gesê dit het al gebeur het dat mense elders vermoor en dan hier gedump word.

’n Inwoner het gesê hulle buurt is stil, maar hy sal nie verras wees as die voorval bendeverwant is nie.

’n Woordvoerder vir die polisie, AO Joseph Swartbooi, het gesê die polisie het gaan kyk wat aangaan nadat hulle net ná tienuur klagtes van die publiek ontvang het.

“Toe ons lede daar kom, het hulle die verbrande oorskot van ’n mens gekry. Die persoon se hande was agter die rug vasgemaak.

“Ons sal deur ’n post mortem bepaal wat die ouderdom, ras, geslag en oorsaak van dood is.”

Volgens Swartbooi onder­soek die polisie ’n saak van moord.

“Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek. Die motief is onbekend.”

  • Mense wat inligting het oor die voorval, word gevra om Crime Stop te bel by 08600 10111.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters