Verlede maand
Lyk lê in kamer
DOOD: Mariana Booysen is in haar huis vermoor.  ~ Foto Verskaf

SY’T lank gedreig dat sy haar ma gaan doodmaak.

Toe vermoor Valentina Booysen na bewering haar ma, Mariana, en laat haar lyk drie dae in hulle huis lê.

Die gemeenskap van Hawston was glad nie geskok toe die polisie Woensdag op Mariana se lyk in haar slaapkamer afkom nie.

Mariana het gereeld gekla dat haar enigste kind, Valentina, haar aanrand.

Sy het dan gevra dat iemand haar tog net help.

Rachel Sauls, wat oorkant die Booysens woon, het aan Son gesê Mariana, ’n diaken, was baie bang om Sondag ná kerk huis toe te gaan.

En dit was ook die laaste keer dat sy haar lewend gesien het, sê Sauls.

Volgens Sauls het hulle begin onraad vermoed toe Mariana se werksmense haar by die huis kom soek het.

Dít was nadat sy twee dae nie opgedaag het vir werk nie.

Jeanette Skippers, een van Mariana se vriendinne, sê sy het saam met Sauls gegaan en reg rondom die huis geklop. Maar daar was geen antwoord nie.

Skippers vertel: “Ek het geskreeu: ‘Mariana, gee my net ’n teken dat jy lewe!’

“Ek het niks gehoor nie – en skielik het daar ’n gril deur my liggaam gegaan.

“Ons ander vriend Sandy het toe gesê Mariana lê dood in die huis.

“Ek het gesê sy moenie k*k praat nie.

“ ’n Speurder het toe ’n polisievên laat kom nadat ons vir haar gesê het dat Mariana dalk dood in die huis kan lê.

“Terwyl ons daar was, het ons ’n verskriklike reuk gekry.

“Die polisie het iemand gesoek om deur die venster te klim, want hulle wou nie die deur afbreek nie.

“Ek is toe deur die venster, maar toe ek binne kom, was daar geen teken van Mariana nie.

Bang

“Op haar bed het daar wasgoed gelê en ek het dit begin afgooi. Hoe meer ek dit afgegooi het, hoe erger het die reuk begin raak.

“Ek het begin bang raak.

“Die polisie het gesê ek moet stop oor die reuk al hoe erger raak.

“Dis tóé dat hulle die deur afbreek en Mariana onder die wasgoed kry.”

Volgens Skippers is dit nog nie duidelik hoe Mariana vermoor is nie, maar hulle vermoed sy is met ’n hamer doodgeslaan.

Daar was ’n hou agter haar kop en ’n hamer het in die gang gelê.

Skippers sê toe hulle Mariana se kamer skoongemaak het, het die bloed uit die komberse en die matras geloop.

Volgens Skippers is Valentina by haar boyfriend se huis gearresteer. Dis waar sy tuis was terwyl haar ma dood in hulle huis gelê het.

Skippers sê Valentina was uit op parool nadat sy vyf jaar gemang het vir die moord op ’n man in Gansbaai.

Skippers vertel: “Mariana was so bly toe sy uit die tronk kom.

Lief

“Sy het elke dag by ons gespog dat haar kind binnekort uit die tronk kom.

“Sy was baie lief vir haar dogter en het alles vir haar gedoen.”

Valentina het Vrydag in die Hermanus Landdroshof verskyn. Die saak is uitgestel tot 19 November.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
6 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters