2 maande gelede
Lyk in bin: Ongeluk ry verdagtes
Lang wag: Cytheria Rex (18) is al in Februarie 2009 vermoor en die saak duur nog voort. Foto verskaf  ~ 

AS JY vermoor word en jou liggaam word in ’n wheelie bin gedump, is die kans goed dat die moordenaar(s) nog lank daarmee gaan wegkom.

Die bebloede, halfnaakte lyk van Cytheria Rex (18) van Kraaifontein is op 22 Februarie 2009 in ’n wheelie-bin in ’n parkie in 4de Laan, Eikendal, Kraaifontein, gevind.

Rex het 39 mes- en moontlik skroewedraaier-steke in die borskas, rug, kop en arms opgedoen. Haar hart, longe lewer en niere is ook gepenetreer.

Maar terwyl die hofsaak net nie wil klaarkry nie, lyk dit asof ’n ander force self met die beskuldigdes wil klaarspeel.

Een van die sewe verdagte is intussen vermoor, twee is wreed aangeval en nog twee is klaar terug in die tronk weens ander ernstige misdrywe.

Die beskuldigdes, Virgill Sass, Rhonwen Rhodes, Imeraan Hendricks, Warren Robertson, Oswill Grootboom, Keenan Lewis en Lee Cloete, was almal onder 20 jaar oud toe die gru-moord op Rex gepleeg is.

Die sewe beskuldigdes is op 18 September 2013, ná byna vier en ’n half jaar agter tralies, op borgtog vrygelaat.

Gangsters het Robertson in 2017 vermoor.

Gewond

Sass is in 2014 in Polls­moor met ’n mengsel van kookwater en botter gebrand en ook met ’n mes gesteek.

Hendricks en sy broers Rhazap en Rhezack, alias Jappi en Jakkie, is in September 2014 gearresteer vir die moord op Owen Cloete.

Grootboom (27) is in Mei 2018 in Kraaifontein aangeval en in die bors, arm en been gewond.

Rhonwen Rhodes en Lee Cloete is tot dusver gespaar.

Selfs die regsmanne word minder.

Net een van die lawyers wat reg aan die begin van die saak in 2009 daar was, Gary Petersen, dien nog in die saak.

Die saak is weer Vrydag in die Blue Downs-hof, maar Son verneem dat dit waarskynlik weer uitgestel gaan word omdat nóg ’n prokureur hom onttrek het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters