6 maande gelede
Lotto: Ou eis net betyds miljoene op
reuse-bedrag: Die PowerBall-lotery is steeds nie gewen nie en iemand kan vanaand groot geld wen.Foto: netwerk24  ~ 

HY HET sy deadline net-net gemaak en nou is ’n man van Ravensmead­ ook ’n miljoenêr.

En om meer goeie nuus te gee, staan vanaand se PowerBall op ’n rekordbedrag van R190 miljoen.

Verlede jaar op 13 Februarie het iemand ’n QuickPick-kaartjie by Checkers in Parow Centre gekoop. Dit het R15 gekos.

Die persoon het toe ’n skaflike R28 miljoen gewen, maar die kaartjie is nooit afgehaal nie.

Ithuba, wat die nasionale lotery bedryf, het verlede maand gevra die persoon moet na vore kom.

Die kaartjie is ’n dag voor Valentynsdag 2018 gekoop. Naledi Masopha­, ’n woordvoerder van Ithuba, het gister gesê ’n 58-jarige man van Ravensmead het na vore gekom om sy geld te kry.

Verval

“Ons kan nie meer bekend maak nie omdat hy gevra het om nie enige ander inligting oor hom bekend te maak nie.”

As die geld nie opgeëis was nie, sou die kaartjie verval het, en die geld sou aan die National Lotteries Distribution Trust Fund gegee word, wat dit aan liefdadigheidsorganisasies sal uitbetaal.

Volgens Masopha het iemand ook die PowerBall Plus van R53 miljoen op 1 Februarie gewen en dit nog nie kom opeis nie.

“Die persoon het self die nommers gekies en die kaartjie het R30 gekos.”

Mense met navrae oor kaartjies wat nog nie opgeëis is nie, kan die nasionale lotery se kantore tolvry bel by 0800 484 822.

Vanaand se PowerBall Plus is ook reeds R18 miljoen werd.

Môreaand se Lotto is ’n geraamde R3 miljoen, Lotto Plus 1 R6,6 miljoen en die Lotto Plus 2 R10,4 miljoen.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters