Verlede maand
Lockdown raak bloedig in klein dorpie
lcokdown
Die toneel waar 'n 16-jarige seun doodgesteek is.  ~ Foto Verskaf

DRIE moorde in nege dae in een klein dorpie.

Dit is hoe die Swellendam-polisie se telkaart in die eerste week van die lockdown lyk.

In die jongste voorval wat Saterdagoggend omstreeks 06:00 plaasgevind het, is ‘n 16-jarige klong van die dorp doodgesteek.

Volgens sers. Noloyiso Rwexana, 'n polisiewoordvoerder, is 'n 43-jarige man vir die moord in hegtenis geneem.

“Na wat verneem word het die 16-jarige die verdagte beroof en het die 43-jarige hom gesteek.”

Die tienerseun is op die toneel dood. 

“Die man sal binnekort in die hof verskyn sodra hy amptelik aangekla is,” sê Rwexana.

Vroeër dié week het twee boesemvriende, albei 15 jaar oud, se vriendskap met die dood geëindig.

Volgens inwoners het die twee baklei oor ‘n fiets se binneband toe die een die ander met ‘n skerp voorwerp doodgesteek het.

“Die voorval het Dinsdag in Asterlaan plaasgevind. Die ander seun is ingevolge die kinderwet vervolg.”

Op die vooraand van die lockdown (Donderdag, 26 Maart) is 'n 29-jarige vrou in Viooltjie straat vermoor. Volgens inwoners is die jong vrou van haar private dele tot haar maag oopgesny.

“Toe die polisie op die toneel kom, het hulle op haar lyk afgekom. Sy het veelvuldige steekwonde gehad en het aan haar wonde beswyk,” sê Rwexana.

Niemand is nog vir die moord aangekeer nie.

Lees meer in Maandag se Son.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters