2 maande gelede
Linge verkool in hokkie
onseker: Cindy Gingqi en Noluthando Tsotso sê hulle is nie seker wat presies gebeur het nie.  ~ 

“ONS het niks gehoor nie, net die vlamme gesien.”

Só vertel die 38-jarige Nolu­thando Tsotso oor die brand wat Sondagaand die lewe geëis het van tweeling-seuntjies van kwalik agt maande oud.

Tsotso sê ’n ander buurvrou het haar kom inlig dat die hokkies in haar agterplaas brand.

Die brand het omstreeks 20:30 in Stamperhoutstraat, Delft-Suid, uitgebreek.

Vergeefs

“Die vlamme was so groot en het so vinnig van die een vertrek na die ander beweeg. Ons het nie eens geweet daar is iemand in die een hokkie nie,” vertel Tsotso.

Sy sê hulle het die brand self probeer blus, maar dit was vergeefs.

Cindy Gingqi (30), ’n buurvrou, vertel die kids se ma het na bewering die tweeling en hul agtjarige sussie in die hokkie gelos om brood te gaan soek of koop.

“Ons is nie heeltemal seker waarnatoe sy op pad was nie, maar sy het hulle daar binne gelos. Hulle het nie krag nie. Sy gebruik kerse en ons vermoed sy het die kers aan die brand gelos.

“Die agtjarige het na bewering uitgehardloop en haar ma se vriendin gaan sê die plek is aan die brand.

“Die vrou het toe om gekom en vir ons kom sê.

“Dis eers toe die brandweer klaar die brand geblus het dat hulle die lykies daar ontdek het. Ons is so geskok. Ons kon nie slaap nie.

“Ons het nie ’n geluid gehoor nie. Hulle het nie gehuil of geskree nie,” sê Gingqi.

GROOT VERLIES: Noluthando Tsotso se dit is die tweede hokkie wat uit gebrand het waar Mathemba Khozo gewoon het.Foto: JONATHAN LESTRADE

Tsotso sê sy glo die kinders het dalk al rook ingeasem en daarom het hulle g’n geluid of gehuil gehoor nie.

“Hulle was maar net agt maande oud, nog kleintjies. Dit is baie hartseer.

“Die ma het glo nóg ’n tweeling, maar hulle bly in ’n ander provinsie,” sê Tsotso.

Gingqi sê die tweede hokkie se huurder was in die Oos-Kaap toe hy die nuus kry dat sy plek ook afgebrand het.

By Son se aankoms het Mathemba Khozo (28), die huurder, ook daar aangekom en aan Son gesê hy het alles verloor.

“Ek het net die klere aan my lyf oor. Ek sal in my taxi moet slaap totdat ek ’n ander plek kry.

“Ja, ek het my goed verloor, maar dis hartseerder dat twee jong kinders dood is,” sê hy.

VERWOESTING: Cindy Gingqi stap oor die sinkplate wat deel uitgemaak het van die hokkie waarin die tweeling dood is. Foto’s: JONATHAN LESTRADE

Volgens Tsotso en Gingqi het die ma iemand wat haar gebel het, gevra om Tsotso te laat weet sy kom nie terug nie oor haar babas dood is.

“Sy het gesê sy is te bang om terug te keer. Sy is bang die gemeenskap gaan haar blameer en seermaak,” verduidelik Gingqi.

Tsotso sê die kids se pa was by die werk tydens die brand. “Die polisie het hom hier kom kry sodat hulle die ma kan probeer opspoor.

Puin

“Net sy en haar dogter weet wat gebeur het en hulle moet verduidelik.”

Jermaine Carelse, woordvoerder van die brand-en-?reddingsdienste, sê hulle is omstreeks 21:00 na ’n brand uitgeroep en het die backyard dwelling in ligte laaie gevind. Dit het die brandbestryders sowat ’n uur gevat om die vlamme te blus.

“Die babalyke is onder die puin gevind. Ons paramedici het hulle op die toneel dood verklaar. In dié stadium is die oorsaak van die brand onbekend,” aldus Carelse.

AO Joseph Swartbooi, ’n polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek tans die tragedie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters