8 dae gelede
Linge se latte sien saam lig
SLAPIES: Elijah (voor) en Elih Smith is na wete SA se enigste tweeling-brothers from another mother.  ~ Foto Verskaf

’N RIVERSDALSE tweeling wat van kleins af mekaar se pyn en emosies ervaar het, het op dieselfde dag die lewe geskenk.

Washiela en Wagieda Smith (25) se eerstelinge, albei seuns, is op Maandag 15 Februarie in die Riversdal-hospitaal gebore.

Wagieda, wat drie minute ouer as haar sussie is, sê dit was totaal en al onverwags – veral omdat sy nog vroeër die dag haar suster geterg het.

“My due date was 27 Februarie en Washiela se baba sou na verwagting op 8 Maart kom.”

Maar die seuntjies wou duidelik nie langer wag nie.

Wagieda sê sy is eerste hospitaal toe.

“Ek het haar vertel van die pyn wat niks lekker is nie en haar gesê ek kry haar jammer.

“Ek het nog gegrap en gesê as ek ingaan hospitaal toe, kom jy ook in.”

En dit was toe net so.

“Toe ek regmaak vir kraam, toe sê die nurse my tweelingsuster het ook nou met pyne ingekom.”

Wagieda se seuntjie, Elih, is 13:25 gebore en Washiela se seun, Elijah, 20:30.

Volgens die departement van gesondheid het albei by geboorte 2,9 kg geweeg.

“Ons is bly dat ons in die vroue se blydskap kon deel.

“Ons wens hulle die beste toe vir die toekoms,” het die departement in ’n verklaring gesê.

Die Smith-tweeling is nie identies nie. Hulle sê hulle was ook nooit lief daarvoor om eenders aan te trek nie.

“Daar sal seker tye wees dat ons die boys dieselfde aantrek, maar dit sal nie elke dag wees nie.”

Hoewel die tweeling se geaardhede verskil – Wagieda is die praterige een en Washiela die stillerige een – het hulle nog altyd mekaar se pyn en emosies aangevoel.

“Ek kan nie verduidelik hoe dit werk nie, maar ons voel aan wanneer die een nie lekker is nie. Daar is net daai iets wanneer dit kom by ons emosies.

“Ons voel ook baiekeer mekaar se pyne.”

Albei mammas woon nog by hul mamma, Elsabé Smith.

Dié oumie sê sy is supertrots daarop om die ma van ’n tweeling te wees en twee kleinseuns te hê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters