2 maande gelede
Ligter beperkings oorweeg
meer water: Die Voëlvleidam is nou 68% vol.Foto: samuel walters  ~ 

WATERBEPERKINGS in Kaapstad gaan dalk eersdaags ligter word.

Ian Neilson, die onderburgemeester, sê ’n vergadering is Vrydag met die nasionale departement van water en sanitasie gehou.

Die Stad Kaapstad het voorgestel dat opheffings stelselmatig plaasvind.

Daar is voorgestel dat beperkings in die stadsgebied van 45% tot 40% verminder en in die landbougebiede van 60% na 50%.

Volgens Neilson het Kapenaars die afgelope week 513 miljoen liter water gebruik teenoor die vorige week se 527 miljoen liter per dag.

Intussen het die goeie reën die naweek vlakke van damme in die Wes-Kaap tot 55% laat styg.

Die afgelope week het daar 110 mm in Ceres geval en die Bergrivierdam is nou 93% vol. Dis een van Kaapstad se hoofdamme.

Damme wat Kaapstad voer se gemiddelde is 62%.

Verlede jaar dié tyd was dit 34%.

Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, sê teen die einde van April was die vlakke 16%.

“Ons bly bekommerd oor die Karoo in die Gouritsrivier se opvangsgebied. Hier is die gemiddelde van damme net 18%.”

Volgens hom bly plekke soos Beaufort-Wes en Oudtshoorn onder druk.

“Die gebiede kry meestal reën in die lente en somer en ons hoop om binnekort meer reën daar te sien.”

Bredell het verbruikers gevra om steeds water te bespaar.

“Al word die damme voller, is die nuwe normaal om minder water te gebruik.”

Vlakke van die hoofdamme is:

Theewaterskloofdam – 45% (2017: 26%. Verlede week 44%); Voëlvleidam – 68% (2017: 26%. Verlede week: 65%), Bergrivierdam 93% (2017: 54%. Verlede week: 89%) en Clanwilliamdam – 99% (2017: 36%. Ver­lede week: 99%).

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters