Verlede maand
Lighter fight kos ’n lewe
ooggetuie: Natasha Du Plessis verduidelik wat sy gesien het terwyl Betty Arendse aankyk.  ~ 

’N ONDERONSIE oor ’n lighter het gelei tot die dood van ’n 34-jarige man van Uitsig in die Kaap.

Volgens ’n ooggetuie is die man sewe keer met ’n mes gelem. Hy is later by ’n kliniek dood verklaar.

’n Vrou (31) is in verband met die moord gearresteer.

Matthew Fredericks is die verdagte se boy­friend.

Volgens hom het sy en die ander man oor die lighter gestry.

“Ek het omgegaan na daar waar die winkel is om warm water te gaan haal by my meisie se familie se huis.

“Ek het teruggekom huis toe en sy het toe opgestaan om daar by haar familie wasgoed te gaan ophang,” sê hy.

Fredericks vertel ’n paar minute later het sy meisie huis toe gekom. Sy was onder bloed.

“Sy het bloed op haar mond gehad en gesê die man het haar met ’n baksteen geslaan nadat sy hom geslaan het toe hulle oor ’n lighter gestry het.”

Opgelaai

Fredericks sê hy is baie hartseer oor wat gebeur het, maar hy is nie in staat om te sê wat presies gebeur het nie omdat hy nie daar was nie.

“Ek weet ’n ding begin mos met ’n begin. So, sy moet dit aan die polisie verduidelik.

“Sy het hier gewag totdat hulle gekom en haar opgelaai het,” sê hy.

Natasha du Plessis verduidelik aan Son sy het die voorval gesien gebeur.

“Toe ek by die mobile winkel in Arumstraat opdaag, het ek gehoor hoe hulle twee stry.

“Die meisie het ’n lighter gevra en sy het die lighter gekry, maar toe hoor ek sy dreig dat sy hom gaan verbrand.

“Sy het in die huis gegaan en die man wat by die winkel werk, het haar agtervolg en aan haar gesê sy kan maar kom as sy hom wil verbrand.”

Du Plessis beweer die meisie het ’n handvatsel na hom gegooi.

Hy het dit opgetel en haar daarmee gegooi.

“Dis toe dat die meisie by die huis uitgekom, hom gesteek en daarna net verdwyn het,” vertel sy.

Du Plessis sê sy glo die man is minstens sewe keer gelem.

“Alles het so gou gebeur. Die man het net daar teen die winkel inmekaargesak,” sê sy.

Teruggee

Fredericks sê hy en sy familie is nog geskok oor wat gebeur het.

“My hart is so seer oor die hele situasie,” sê hy.

Betty Arendse, ’n familielid van die verdagte, sê volgens wat sy gehoor het, wou die man nie vir haar familielid ’n lighter gee nie.

“Hulle stry altyd oor ’n lighter omdat sy dit nooit teruggee nie en dit is na bewering waarom hulle gestry het,” sê sy.

Sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig die voorval het Dinsdag 11:30 plaasgevind.

Sy het gesê: “ ’n Vrou is in hegtenis geneem in verband met ’n moord.

“Sy het intussen reeds in die Goodwood-landdroshof verskyn.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters