2 maande gelede
Life in mang vir vuilgoed wat kids rape
luisgat: Moses Monnapula het life in die mang gekry. FOTO verskaf  ~ 

’N VUIL verkragter-vark het dié week drie keer lewenslank gekry vir sy siek dade met jong kinders.

Moses Monnapula (45) is in die hooggeregshof in Kimberley skuldig bevind op drie klagte van verkragting en twee van kinderontvoering.

Die voorvalle het op 27 Junie 2015 gebeur.

Kapt. Olebogeng Tawana, polisiewoordvoerder, sê Monnapula het twee meisies (toe ses en agt jaar) na sy shack in Madiba Square, Galeshewe, buite Kimberley gelok.

Hier het hy hulle oornag aangehou en verkrag.

Nadat die meisietjies vermis geraak het, het die gemeenskap na hulle begin soek.

Die volgende dag het lede van die gemeenskap hulle gaan red nadat die mense inligting ontvang en opgevolg het.

Tydens sy uitspraak het waar­nemende regter Vernon Smith gesê Monnapula het geen berou vir sy vuil dade getoon nie.

Ook het hy versuim om vir sy misdade verantwoording te aanvaar.

“Hy was vasbeslote om hulle te verkrag. Dit is ’n impulsiewe daad wat hy teen die twee jong meisietjies gepleeg het.

Samelopend

“Hy was veronderstel om hulle te beskerm, maar toe betree hy hulle privaatheid. Boonop het hy hulle verneder en hul menswaardigheid weggevat,” het Smith in sy vonnis­oplegging gesê.

Hy het drie jaar elk gekry vir die twee klagte van ontvoering en het drie keer lewenslank gekry vir die seksdade. Die vonnisse sal same­lopend uitgedien word.

Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

Verder sal Monnapula se naam in die register vir seksuele oortreders geplaas word.

Volgens die staat het hy ’n reeks ander skuldigbevindings, soos roof, diefstal, huisbraak, verkragting, aanranding met die doel om ernstig te beseer en die besit van dwelms, waarvoor hy reeds tronkstraf uitgedien het.

Lt.genl. Peter Risimati Shivuri, die Noord-Kaapse provinsiale polisiekommissaris, het Monnapula se vonnis verwelkom.

Hy het Galeshewe se eenheid belas met gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe bedank vir die goeie speurwerk.

Lt.genl. Shivuri het gewaarsku: “Sulke harde, swaar vonnisse moet dien as ’n afskrikmiddel vir ander kriminele wat hulle ook aan misdaad wil skuldig maak.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters