10 dae gelede
Lewe is omgedop ná skop
ONWAAR: Die hartseer ouma hou vol geen seksuele dade is met haar jong kleinkind gepleeg nie.  ~ Foto ter illustrasie: iStock Images

HAAR hele lewe het binne ’n oogwink verander.

’n Ouma (40) van die Kaapse Vlakte sê 21 Desember 2020 is ’n dag wat sy nooit wil herleef nie.

Op dié dag het die ouma se lewe ’n 180-grade-draai gevat nadat sy en haar twee kleinkinders Badisa se kantore besoek het.

Dit was ook die laaste dag dat die ouma haar kleinkinders se handjies kon vashou.

Volgens haar het alles begin toe die een kleinkind (5) in die parkie naby hul huis seergekry het.

“Ek onthou nog daai dag,” vertel sy. “My dogter het my onmiddellik gebel toe die meisie seerkry.

Inderhaas

“Hulle het in die parkie gespeel en een van haar nefies het haar in die pri­vates geskop.”

Die ouma sê sy en haar dogter (19) het nog saam die vyfjarige inderhaas na die hospitaal gevat.

Die dogter verduidelik die aand toe hulle hospitaal toe gegaan het, het ’n warm gevoel haar wakker gemaak.

“Ons het nog geslaap, toe voel ek iets nat. Ek dog toe sy pie. Maar toe ek afkyk, het dit soos ’n period gelyk.

“Ons is dokter toe. Van daar stuur hulle ons na die Karl Bremer-hospitaal, van daar na Tygerberg.”

Die ma en dogter sweer hoog en laag dat alle toetse negatief teruggekom het. Die familie is na die hospitaal se maatskaplike werker gestuur vir berading.

“Daar het die nagmerrie begin,” vertel die dogter terwyl sy haar mamma probeer kalmeer.

Sy troos haar: “Mammie, asseblief? Ek weet Mammie is hartseer.

“Ek is ook, maar ons moet try om sterk te wees.”

Die dogter sê hulle is gestuur na ’n maatskaplike werker by Badisa, waar hulle volgens haar soos misdadigers behandel is.

“Dis amper asof ons iets aan my niggie gedoen het.

“In Desember toe kry ons die brief om hulle in te bring, met hul geboortesertifikate en kliniekkaarte, sodat ons ’n meeting kan hê.”

Die ouma praat terwyl die trane oor haar wange rol.

“Julle verstaan nie. Ek is baie lief vir my kinders! Ek sal hulle mos nooit seermaak nie.

“Hulle het elke aand by my in my arms geslaap. Nou hoe slaap hulle nou? Ek kan nie eens slaap nie!

“Hulle het my kinders net daar weggevat. Ek kon hulle nie eens vashou nie ... Ek kon hulle nie eens ’n laaste soentjie gee nie.”

Die ouma voeg by dat hulle nie eens in die kantore vergader het nie omdat dié “te vol was”.

Die dogter sê al wat die maatskaplike werker aan hulle verduidelik het, is dat daar ’n seksuele saak is en dat hulle in die hof moet verskyn.

“Toe ons by die hof was en by die polisie oor die saak navraag gedoen het, het albei bevestig dat daar geen seksuele saak is nie; daar is een van verbal abuse.

“Selfs die magistraat het gesê Badisa sê dis onveilig vir die kinders.”

Die ouma sê sy wil graag weet waar die organisasie aan hierdie beweringe gekom het.

“Hulle het nooit met die kinders gepraat nie, want hulle was altyd saam met ons.

Kinderhof

“Hulle het ook nie eens die decency gehad om ons van alles in te lig nie.”

Delorees Kotze, ’n woordvoerder van die departement van maatskaplike ontwikkeling, sê hulle kan ongelukkig nie kommentaar lewer oor sake wat in die kinderhof is nie.

“As die ouma ongelukkig is, kan sy die kinderhof nader.”

Esther Lewis, ook ’n woordvoerder by die departement, sê hulle ondersoek tans die voorval.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters