6 dae gelede
Lewe bly hel weens taxi-terreur
n Toyota Corolla
Vlamme: ’n Toyota Corolla brand in Joostenbergvlakte uit.  ~ FOTO’S VERSKAF

TWEE karre is gepetrolbom nadat taxi-terroriste dreigemente gestuur het dat hulle pendelaars sal aanval as hulle alternatiewe vervoer probeer gebruik.

Pendelaars en ander onskuldige mense word nou ook by die voortslepende taxi-geweld betrek.

Dinsdagmiddag is ’n Uber driver se motor met ’n petrolbom gegooi terwyl hy ’n pendelaar vervoer het.

Hierdie voorval het in Symphonyweg, Delft, gebeur.

Kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, sê dié voorval hou verband met die taxi-geweld en die polisie ondersoek die saak.

Traut sê: “Gistermiddag het verdagtes wat besig was om te betoog, ’n e-hailing driver se motor gepetrolbom.

“Dis omdat hy passasiers in Symphonyweg vervoer het.

“Niemand is beseer nie.

“Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek.”

In ’n ander voorval wat ook verband hou met die taxi-geweld, is ’n motoris se voertuig in Kraaifontein aan die brand gesteek.

Dié voorval het op die Boy Briers-pad in Joostenbergvlakte gebeur.

AO Joseph Swartbooi, ’n polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek ’n saak van saakbeskadiging.

Swartbooi sê: “Die polisie het Dinsdag gereageer op ’n misdaadklagte en het in die rigting van die Boy Briers-pad in Joostenbergvlakte gery.

“By hul aankoms op die toneel het hulle ’n brandende wit Toyota Corolla aangetref.

“Volgens die klaer het vyf onbekende verdagtes hom gedwing om sy voertuig in die pad te stop. Daarna het hulle dit aan die brand gesteek.

“Die verdagtes het van die toneel af gevlug en moet nog gearresteer word.

“Die omstandighede rondom die voorval word tans ondersoek.”

Swartbooi vra dat enige iemand wat inligting het, Stop Misdaad sal bel by 08600 10111.

Daylin Mitchell, Wes-Kaapse minister van vervoer, sê hy is sterk gekant teen die onlangse aanvalle op busse en ander vervoerdienste.

Mitchell sê hierdie aanvalle hou heel waarskynlik verband met die voortslepende stryd tussen die taxi-organisasies.

Aanpas

Volgens hom het die geweld ’n uitwerking op ander vorms van vervoer gehad wat hulle moes aanpas vir veiligheid en sekuriteit.

Mitchell sê weens die voortslepende taxi-geweld is die vervoerstelsel van sommige gebiede in die Wes-Kaap geaffekteer.

Hy het ’n oorsig gegee van hoe die vervoerstelsel teen gister gelyk het.

Mitchell sê ’n mens moet in ag neem hierdie verslag kan enige tyd verander.

Sy oorsig dui aan:

  • Geen taxi-dienste is tussen Mbekweni en Bellville beskikbaar nie.
  • Plaaslike roetes in die Paarl is in werking.
  • Daar is beperkte minibustaxi’s vanaf Khayelitsha, Nyanga en Langa met ’n beperkte diens by die Bellville Public Transport Interchange (BPTI).
  • By die BPTI sal minibustaxi-dienste vanaf Eersterivier hul passasiers by Robert Sobukweweg aflaai.
  • Taxi’s op die roete tussen Kaapstad en Belhar sal passasiers by Charl Malan­straat op- en aflaai.
  • By Somerset-Wes se taxi rank is alles in orde.
  • Die Golden Arrow-busdiens is beperk.
  • In Nomzamo en in Lwandle is daar beperkte werksaamhede by die minibus-taxi-staanplekke.
  • By die taxi rank in Langa is alles in orde, maar met beperkte vervoerdienste na die BPTI.
  • Golden Arrow-busse ry op Borcherds Quarry.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters