Verlede maand
Leo: Moeilike besluit wag
Leo Williams (11)  ~ Foto Verskaf

DIT gaan nie goed met klein Leo Williams (11) nie.

Nadat die seun se toestand laas week ’n bietjie verbeter het, het hy onlangs vinnig agteruitgegaan.

Volgens ’n woordvoerder van die familie, Thyrone Williams, het daar weer swelling in sy kop ontstaan.

Volgens hom is Leo se maag kliphard.

Leo, van Laingville in St. Helenabaai, is sowat twee weke gelede na bewering deur lede van die polisie se eenheid vir openbare orde (Pops) gewond toe hulle gedurende ’n protes­optog op inwoners losgebrand het.

Volgens Thyrone het hy Leo gister by die Rooi Kruis-kinderhospitaal besoek.

Hy sê volgens wat hy van dokters verneem, word daar oorweeg om die masjiene af te skakel wat die seun aan die lewe hou.

“Die masjien wat medikasie aan hom verskaf, is reeds afgeskakel,” sê hy.

Thyrone vertel: “Leo se toestand het baie verswak.

“Hy het baie gewig verloor en hy het weer begin swel. Die dokters monitor hom aanhoudend.”

Volgens hom moet die familie ’n baie belangrike en hartverskeurende besluit neem sou daar geen verbetering wees nie.

“In dié stadium van die geveg is dit touch and go.”

Thyrone vertel Leo se pleegmammie, Cathy Thomas, is geweldig uitgeput omdat sy nog die hele tyd by hom waak.

Volgens hom wil sy nie gesteur wees nie.

Nadat Williams by die hospitaal was, het hy die hartseernuus met die dorpie se inwoners gaan deel.

Woedende gemeenskapslede het verlede week vir geregtigheid vir die seun betoog.

Bid

Hy het hulle meegedeel dat Leo nie uit die hospitaal ontslaan gaan word nie.

Thyrone se boodskap aan hulle was: “Kom ons bid vir die familie en ook vir Leo in dié tyd.”

Thyrone het ook die res van die land gevra om vir hul dorp te bid wat in hartseer­ en woede gedompel is oor die toestand waarin Leo is.

Hy sê sy hart is stukkend om klein Leo so hulpeloos te sien lê.

Hy sê: “Dis hartseer. Om te dink, jy kan niks doen nie en hy lê net daar aan masjiene gekoppel.”

Volgens ’n woordvoerder van die polisie se onafhanklike ondersoekdirektoraat (Opod), Ndileka Cola, is hulle steeds besig om die saak te ondersoek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters