3 maande gelede
Lemnag eis twee kinders
Diep gebroke: Frizaan Adams, die kinders se ma, probeer nog tot verhaal kom ná die wreedheid.  ~ 

VREDENBURG. – Al wat ’n jong ma van Louwville van haar twee kinders oor het, is die bloedbesmeerde klere wat hulle aangehad het toe hulle gesteek is.

Frizaan Adams (25) se oë was gister dik en rooi gehuil oor Faith (3) en Conray (1).

Hulle is Woensdag in die vroeë oggendure vermoor.

Adams se boyfriend, Derek Karlmeyer (50), is in hegtenis geneem in verband met dié siek daad.

Geslaap

Frizaan se ma, Denise (53), sê bitter oor Karlmeyer: “Hy is die duiwel homself ...”

Frizaan vertel wat gebeur het: “Ek en my vriendin Christolene het al geslaap met die kinders. Faith het agter my gelê en Conray voor my.

“Christolene en haar kind het by my voete gelê.”

Karlmeyer het glo ingegaan en demand dat Christolene uitkom “om met een van sy vriende bymekaar te word”.

Sy wou nie. Frizaan het haar ook aangesê om nie uit te gaan nie.

Dit is toe dat Karlmeyer na bewering uitgehaak en ’n crowbar gaan haal het.

Frizaan vertel: “Hy het ingekom en gedreig om my kinders aan te rand.

“Hy het oor en oor gesê hy gaan my kinders breindood slaan en gevra of ek wil sien.

“Faith was bang en het gehuil. Sy het aan my vasgeklou.”

’n Stoeiery het toe glo tussen Karlmeyer en Frizaan uitgebreek.

Karlmeyer se familielede wat in die hoofhuis woon, het uitgehardloop toe hulle die commotion hoor.

Karlmeyer het in ’n wendyhuis agter die huis gewoon.

Die suster het Frizaan in die huis weggesteek. Sy het glo gesê Karlmeyer sal nie die kinders seermaak nie.

Frizaan vertel: “Ek het heeltyd gehoor hoe my kinders huil. Toe Faith skielik stil word, het ek geweet iets is fout.

“Toe gooi hy vir Conray deur die hoofhuis se venster.”

Faith is 17 keer gesteek en toe in ’n kombers toegedraai soos iemand wat slaap. Haar bababoetie is 11 keer gesteek.

Hy het blykbaar nog geleef nadat hy deur die venster gegooi is.

Inwoners op die toneel het Faith glo langs hom neergelê omdat die twee onafskeidbaar was en haar teenwoordigheid hom sou kon help paai. Hy is eers later in die hospitaal dood.

Hulle ma vervolg: “Ek hoor heeltyd my kinders huil en dan soek ek hulle, maar daar is niemand.”

Die Adamse is nog diep geskok.

Lief

Volgens hulle was Karlmeyer ’n saggeaarde mens al was hy glo ’n lid van die 28’s-bende en uit op parool.

Denise sê: “Hy was lief vir die kinders en was veral baie erg oor die seun. Ek het hom in die selle besoek en ek wou weet hoekom hy dit gedoen het.

“Ek het vir hom gesê ek het nooit geweet ek laat ’n moordenaar in my huis toe nie.”

Kapt FC van Wyk van die polisie het die voorval bevestig. Hy sê Karlmeyer sal vandag in die hof verskyn.

Die kinders sal na verwagting volgende Saterdag begrawe word. Hulle lyke is nog nie formeel uitgeken nie. 

kyk die bloed: Nathanine en Frikkie Adams wys hoe die kinders se klere lyk.
baie seer: Nathanine Adams, Frizaan se suster, en Frikkie Adams, die oupa, kan nie hulle trane keer nie.
Ouma: Denise Adams het haar kleinkinders se moordenaar in die oë gaan kyk. Foto’s: MELINDA STUURMAN
Diep gebroke: Frizaan Adams, die kinders se ma, probeer nog tot verhaal kom ná die wreedheid.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters