3 maande gelede
Lektriek eis een
gevaarlik: Brandweerpersoneel blus die vlamme nadat ’n transformer ontplof het.FOTO’S VERSKAF  ~ 

’N ELEKTRIESE kontrakteur het na verneem word verkool en nog twee mans is ernstig verbrand toe ’n elektriese transformer by ’n pakhuis van Shoprite ontplof het.

Vier ander mense is vir rookinaseming behandel.

Die ontploffing het gister omstreeks 10:00 by die Shoprite-groep se Cilmor-verspreidingsentrum in Brackenfell plaasgevind.

Een van die mans wat lelik verbrand het, is die 30-jarige Sudley Petersen van Mitchells Plain.

Sy hartseer ma, Fuzzy Petersen, van Belhar, sê sy het gehoor daar was ’n olielekkasie en haar seun het daarna gaan kyk toe die transformer ontplof het.

“My seun was by. Sy broer, Zubair, wat ook by die elektriese maatskappy werk, was buite en Sudley het na buite gestap toe dit ontplof het.

“Hy kon ook verkool gewees het as sy broer hom nie gesoek en hy nie uit die gebou moes stap nie.”

Petersen sê Sudley het vertel hy kon niks sien toe die ontploffing plaasgevind het nie en hy het blind na die uitgang gestrompel.

Son was saam met Petersen by die pakhuis, maar die base wou nie praat nie en het Son na Shoprite se mediakantoor verwys.

Een van die base het met Petersen gepraat en sy het gesê sy is ontevrede omdat niemand by haar seun in die hospitaal was nie.

Die man het gesê hy sal so gou as moontlik gaan en het ook traumaberading vir die gesin aangebied.

Sudley is getroud en het ’n seun en dogter van onderskeidelik twee en vyf jaar oud.

’n Woordvoerder van die Shoprite-groep sê die brand wat ná die ontploffing uitgebreek het, is binne ’n uur geblus.

“ ’n Ondersoek is aan die gang oor wat die oorsaak van die ontploffing was en om die omvang van die skade te bepaal.

“In dié stadium lyk dit nie of operasies lank opgeskort sal wees nie.”

Verteenwoordigers van die Shoprite-groep het hul medelye teenoor die gesinne en kollegas uitgespreek en gesê hulle sal help waar hulle kan.

Traumaberading sal gegee word aan al die mense wat die voorval gesien het.

Lt.kol. Andrè Traut, ’n woordvoerder van die polisie, sê hulle kan bevestig ’n 43-jarige man is in die ongeluk dood. Hy sê voorts die saak word ondersoek.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters