Verlede maand
Leiers byeen oor ‘oorlog’
KYK DAAR! Nuuskierige lede van die gemeenskap drom saam om te sien wat nou weer gebeur het.  ~ Foto Verskaf

DIE tienerseun van ’n bekende bendeleier in Elsiesrivier is gister in ’n skietery gewond.

Jonathan “Appel” Hein se seun (15), wat in die laerskool is, het in die deur van hul huis gestaan toe hy geskiet is.

Jonathan is verlede jaar doodgeskiet.

Hospitaal

Nóg ’n laerskoolleerder is in die voorval geskiet.

Albei seuns is na die hospitaal geneem.

Die skietvoorval het by Norwood Court in Clarkes Estate gebeur.

Die skietery kom kort nadat twee vermeende gangsters Maandag in die vroeë oggendure in Clarkes Estate en Leonsdale doodgeskiet is.

Nóg ’n man is gewond en is tans in die hospitaal.

Imraahn Mukaddam, ’n gemeenskapsleier in Elsiesrivier, het die bendeskietery in die gemeenskap as ’n kleinskaalse burgeroorlog beskryf.

Mukaddam sê: “Een bendemoord is een dood te veel.

“Daar is te veel onwettige vuurwapens in ons gemeenskappe wat ontslae­ van geraak moet word.”

Steve Ross van die Inspire Network in Elsiesrivier het verlede week met die stasiekommissaris vergader om die bendegeweld in die area te bespreek.

Die Inspire Network beplan ’n leiersberaad saam met ander organisasies en leiers vir volgende week.

Dossiere

Die doel is om met ’n veiligheidsplan en ontwikkelingsforum vir Elsies­rivier vorendag te kom.

Volgens sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, is twee laerskoolleerders gewond en die polisie is besig om leidrade op te volg.

Niemand is tot dusver gearresteer nie en twee dossiere van poging tot moord is aangelê.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters