13 dae gelede
Leerders tuis kan als fnuik
Debbie Schäfer is bekommerd dat duisende leerders hul graad volgende jaar sal moet herhaal.  ~ 

DIE Wes-Kaapse minister van onderwys, Debbie Schäfer, is bekommerd dat duisende leerders hul graad volgende jaar sal moet herhaal oor hul afwesigheid in dié moeilike jaar.

As gevolg hiervan kan daar groot probleme kom vir dié wat dit wel deur die skooljaar maak omdat dit die beskikbare plek kan beperk, sê Schäfer.

Volgens Kerry Mauch­line, woordvoerder vir die minister, het sy agtergekom dat daar leerders is wat sonder enige rede tuisbly.

Van hulle is ook nie eens vir tuisonderrig geregistreer nie, sê Mauchline.

Suksesvol

Sy verduidelik: “Dit is belangrik dat hierdie leerders sonder toestemming baie dringend terug kom skool toe.

“Dis nodig sodat onderrig voort kan gaan en hulle suksesvol na die ander graad kan vorder.

“Van die leerders wat nie by die skool is nie, is daar wel 32 000 in die provinsie wat met toestemming by die huis is.

“Maar daar is nog ’n aantal leerders wat nie terug is by die skool nie en geen rede is deur hul ouers by die skool aangevoer nie.

“Ons doen ’n beroep op ouers en gemeenskappe om nie tou op te gooi met die skooljaar nie.”

PROTOKOL: Skole hou by sanitasie om leerders veilig te hou teen Covid-19. Foto: Jonathan Lestrade

Mauchline sê as daar gekyk word na hoe leerders terug by die skool ingefaseer is, het die bywoning baie verbeter sedert die skole in Junie heropen het.

Veral die by­woning deur die matrikulante is baie bemoedigend, voeg sy by.

Sy sê dit is baie belangrik vir die matrikulante om gereeld skool by te woon oor hulle nie weer konsepte volgende jaar kan opvang soos ander grade se leerders nie.

Met die lockdown se vlak 1 wat eersdaags in werking kom, word die skooljaar sover moontlik gered juis met die oog op die talle logistieke nagmerries wat dit in volgende jaar se skooljaar tot gevolg kan hê.

Toestemming

Mauchline verduidelik as daar na die land se syfers (wat onder in ’n grafika aangedui word) gekyk word, moet ’n mens in gedagte hou dat leerders se fisieke bywoning minstens een maal per week is.

Volgens haar word die bywoning van leerders wat met toestemming tuis is – weens onderliggende siektetoestande – nie by die syfers ingesluit nie.

TE LEEG: Departement is bekommerd oor te veel leerders tuis leeglê. Foto: Jonathan Lestrade

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters