5 maande gelede
Leerders moet nou uitkamp
opelug kennis: Só probeer onnies aan leerders in die tent klasgee. Foto’s: PETER ABRAHAMS  ~ 

’N MENS sou dink as ’n tent by ’n skool opgerig word, kom die sirkus of ’n skool-kermis.

Maar in die geval van die Laerskool Matroosbergweg is die blou-en-wit tent daar om meer plek te maak vir onderrig!

Leerders van drie verskillende klasse moet in die markiestent klas kry oor die skool stampvol leerders is en die klaskamers te min.

Ouers van leerders aan die Laerskool Matroosbergweg in Belhar het gister hulle mond uitgespoel oor dié kwessie.

Oorbevolking by die skool het die beheerliggaam gedwing om die tent op ’n stuk oop veld op die skoolterrein op te rig.

Die beheerliggaam se voorsitter, Lillian Miller, sê die skool huur die tent teen R10 000 per maand uit hulle eie fondse uit.

onaanvaarbaar: Va­nessa Linde sê die tent lyk soos iets wat vir ’n funksie gebruik kan word.

Miller sê sy as ouer is bekommerd oor die gr. 4-, 5- en 6-leerders wat al sedert die opening van die skole in die tent onderrig moet word.

Sy sê: “Hierdie is ’n area waarin daar enige tyd geskiet word. Die kinders gaan geen plek hê om te skuil as die skietery naby die skool plaasvind nie.

“Ek is baie bekommerd oor die kinders se veiligheid. Dit moet ook baie moeilik vir hulle wees om aandag te gee in die klasse.”

Sy wil nie eens dink wat gaan gebeur as die suidoostewind sterk waai of die reën gaan begin val nie.

’n Ouer wat naby die skool woon, Vanessa Linde, sê sy het eers gedink die tent is bedoel vir ’n event wat dalk by die skool sou plaasvind.

Sy vertel: “Ons het gesien dat die tent Maandag opgerig is. Ons het gedink dis vir een of ander special funksie.

bekommerd: Lillian Miller, die beheerliggaam-voorsitter van die Laerskool Matroosbergweg, sê die tent is onregverdig teenoor die kinders.

“Toe sou ons eers Woensdag met die opening van die skool sien dis ver­onder­stel om klaskamers vir ons arme kinders te wees.”

Nog ’n ouer, Dorothea Hector, sê: “Ek wil graag hê die regering moet ons kinders help met ordentlike klaskamers.

“Ander skole in die omgewing het selfs skoolsale. Ons vra nie vir baie nie, maar ons kinders moet na gekyk word.”

Vaak

’n Onnie wat anoniem wil bly, sê die tent is nie goed vir die leerders nie.

Die onnie sê: “Hier by 09:30 se kant begin die kinders al vaak word weens die humiditeit in daai tent.

“Dis nie net die tent nie, die gewone klaskamers is ook oorbevolk. Daar is ’n klas met 68 kinders in.”

Die ouers kla ook oor die morsige toestand van die toilette by die skool.

te min spasie: Die klaskamers van baksteen en sement is ook propvol.

’n Woordvoerder van die WKOD, Bronagh Hammond, het gister gesê: “Die departement is baie ernstig bewus van die uitdagings wat sommige skole ondervind.

“Juis met die groot groei in leerdergetalle, asook die groot getalle leerders per klaskamer.”

Sy voeg by dat hierdie tipe dinge gewoonlik aan die begin van ’n nuwe skooljaar voorkom en dis probleme wat die departement so vinnig moontlik probeer uitstryk.

Die departement is op die oomblik ook besig om hom te staal vir die volgende toename in leerders ná payday op 25 Januarie, wanneer daar nog meer leerders uit ander provinsies hier gaan aankom.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters