Verlede maand
Leerders in hof oor afknouery
KRING: Verskeie medeleerders omring die 14-jarige slagoffer.  ~ Foto Verskaf

VYF leerders van Hoërskool Kensington verskyn vandag in die Kaapse landdroshof ná ’n fight buitekant die skool.

Die voorval het ’n week gelede ná skool gebeur. Die leerders het mekaar buite die skool toegetakel.

Nóg ’n 19-jarige man is ook van aanranding aangekla en sal vandag saam met die leerders in die hof verskyn.

Die vyf leerders is drie meisies (13, 15 en 17) en twee seuns (14 en 15).

Hulle is Saterdag aangekla en agterna in die sorg van hul ouers vrygelaat.

Hulle het na bewering ’n 14-jarige leerder buitekant die skool aangerand.

BAKLEIERY: Die ander leerders moedig die aanvallers aan om die meisie te moker.

Dít terwyl ander leerders toegekyk het sonder om haar te help.

Kevin Alexander, ’n gemeenskapsleier van Kensington, het sy misnoeë oor die liederlike voorval uitgespreek.

In die video clip wat in die sosiale media versprei is, kan ’n mens sien hoe die tieners die slagoffer buitekant die skool voorkeer.

Die ander leerders staan in ’n kring om haar terwyl hulle haar herhaaldelik klap.

Toe die 14-jarige kind probeer wegstap, word sy lafhartig van agter geslaan.

Alexander sê: “Ek is sterk gekant teen enige vorm van geweld. Sulke gevalle waar leerders met mekaar baklei, veral meisies, is kommerwekkend.

“Dis onaanvaarbaar en die leerders wat betrokke is, moet aangekla en gestraf word.

“Dis swak gedrag van die leerders wat die ander leerders aanhits om te baklei.

“Daar moet veiligheidsmaatreëls ingestel word om leerders buite die skool te beskerm waar bendes en ander jeugdiges hulle inwag om te baklei.”

ERG: Dié leerder met die klap volg die slagoffer om verder te baklei.

Bronagh Hammond, die woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, sê: “Die skool is besig om die leerders wat by die bakleiery betrokke was, te identifiseer en die voorval te ondersoek.”

Kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval aan Son bevestig en sê die leerders is van aanranding aangekla.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters