5 maande gelede
Leerders hof toe
BAKLEI: Twee gr. 10-leerders van die Hoërskool De Villiers Graaff in Villiersdorp takel mekaar met die vuiste toe. FOTO’S VERSKAF  ~ 

VILLIERSDORP. – Twee leerders van die Hoërskool De Villiers Graaff sal binnekort ná ’n bakleiery in die hof verskyn.

Dit volg nadat twee gr. 10-leerders mekaar verlede Woensdag ná skool met die vuiste getakel het.

Een van die leerders het beserings aan sy lyf en oogbank opgedoen.

Hy het ook sy heup in die bakleiery beseer en loop tans mank.

Hulle was glo haaks oor daar ’n oor-en-weer-vloekery was.

Volgens die familie (wat verkies om anoniem te bly) van een van die leerders is hulle ongelukkig oor hoe die skoolhoof en die skool se beheerliggaam die situasie hanteer het.

Die ongelukkige familielid sê: “As die skoolhoof ingetree het ná die eerste bakleiery, sou daar nie nóg ’n bakleiery plaasgevind het nie.

“My neef het onder bloed by die huis aangekom en ons is nie eens van die voorval in kennis gestel nie.

“Die skool se beheerliggaam het ons eers ingelig nadat ons ’n saak van aanranding by die polisie aanhangig gemaak het.

“Ons is ongelukkig oor die manier hoe die kolonel by die polisiestasie opgetree het, toe ons ’n saak van aanranding oopgemaak het.

“Sy is ook lid van die skool se beheerliggaam en was baie onprofessioneel.”

Op die video van die voorval kan ’n mens sien hoe die een leerder van agter gegryp en in die lug opgetel word.

Die arme leerder word dan hard teen die grond gegooi waar hy getrap en geskop word.

Die leerders se ouers beweer baie soortgelyke voorvalle word by die skool onder die mat gevee.

Die skoolhoof het glo eers twee dae ná die voorval met die ouers van die twee betrokke leerders in aanraking gekom.

Millicent Merton, woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, sê: “Die voorval is onder die distrikskantoor se aandag gebring. Die skoolhoof is besig met ’n dissiplinêre ondersoek teen die twee leerders.”

Volgens kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, het albei die seuns se ouers ’n saak van aanranding geopen.

Die twee sal volgende week in die hof verskyn op klagte van aanranding.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters