18 dae gelede
Leerders deel hul ervaring
PRAAT UIT: Swart en bruin leerders voel húlle was die victims van die event.  ~ Peter Abrahams

RASSISME is al ’n ou ding by die Hoërskool Brackenfell.

Só beweer van die matrikulante wat met Son gepraat het.

Die skool was onlangs in die nuus nadat net wit leerders en ouers ’n partytjie vir matrikulante bygewoon het. Vier onnies was ook by die event, wat op ’n wynplaas gehou is.

Alle hel het Maandagoggend sowat 1 km van die skool se ingang losgebreek toe inwoners en ouers van meestal wit leerders met EFF-lede gebots het.

Die politieke party was op pad na die skool om die skorsing te eis van die vier onnies wat die partytjie bygewoon het.

Swart en bruin matrikulante wat laas week met Son gepraat het, sê hulle het nie uitnodigings na die partytjie gekry nie. Die leerders het op voorwaarde van anonimiteit met Son gepraat. Dít nadat oudleerders dreigoproepe ontvang het nadat hulle onlangs in die media oor beweerde rassisme by die skool uitgepraat het.

Een matrikulant sê: “Die mense lieg as hulle sê ál die matrikulante is na die partytjie genooi, want geen van ons swart of bruin matrikulante het die uitnodigings gekry nie.

“Die skool sê ook dit was ’n privaat event en hy distansieer hom daarvan.

“As dit wel ’n privaat event was, hoekom is die video van die partytjie op die skool se amptelike Instagram-blad geplaas en toe weer verwyder?

“Die skool sê in die openbaar hy ondersoek die aangeleentheid, maar die skoolhoof het nog nie met ons as swart en bruin matrikulante gepraat nie.

“Hoe ondersoek jy die saak as jy nie met die slag­offers praat nie?”

Die matrikulante is emosioneel terwyl hulle oor hul ervaring van diskriminasie by die skool vertel.

Nog ’n leerder vertel: “Toe ek van die ‘whites only event’ gehoor het, was ek nie verbaas nie, want rassisme kom al lank by die skool aan. Vandat ek in die skool begin het, is ek behandel asof ek nie hier hoort nie.

“Die onnies neem van agter af foto’s van ons hare.

“Die skool se harebeleid is strenger vir ons as vir die wittes. Wit leerders kan hul hare pienk en blou en ander kleure dye sonder enige gevolge.

Diskriminasie

“Ons mag nie eens braids dra nie en ons Afro’s mag nie te lank wees nie.”

Nog ’n leerder vertel: “Die rassisme is groter as net hier by die skool.

“Ek het die diskriminasie vanaf ’n jong ouderdom ervaar.

“Ek bly hier in Brackenfell, maar wanneer ek van die skool na my huis toe stap, is daar ’n kar of bakkie wat my agtervolg asof ek ’n dief is.

“Toe ek nog op laerskool was, het ek klasse gebunk as gevolg van die diskriminasie.”

Nog ’n leerder vertel emosioneel: “Een van die wit leerders het my voor die onnie in die klas ’n shebeen queen genoem.

“En die onnie het niks gedoen nie. Ek is al laas jaar as ’n EFF-lid uitgekryt.

“Die skool moet sy taalbeleid meer inklusief maak – daar moet ’n Engelse klas wees.

“Ons ouers woon nie meer ouervergaderings by nie, want daar word net Afrikaans gepraat.”

Die skool hou in ’n verklaring vol hy kan nie verantwoordelikheid neem vir ’n privaat event nie.

Die verklaring lees voorts die skool erken die pyn wat die partytjie vir veral swart en bruin leerders veroorsaak het.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters