26 dae gelede
Leerder sterf ná sy inmekaar sak
Unise Koopman
Unise Koopman was lief vir sing.  ~ Foto Verskaf

ONDERWYSERS en leerders van die Hoërskool Scottsdene in Kraaifontein is in skok oor die skielike dood van een van hul leerders. 

Unise Koopman (17) was ’n gr.11-leerder aan die skool.

Sy is Saterdagaand op pad hospitaal toe dood. Na wat verneem word, het sy voor dit, net inmekaar gesak.

 “Sy was nie siek nie. Daar was nie eens ’n teken van olikheid toe sy Vrydag by die skool was nie,” sê die hoof van die skool, Peter Links. 

Links sê Unise was van daai kinders wat jy in jou skool wou hê. “Sy was ’n sterk leier, ’n liefdevolle kind en ’n hardwerkende leerder.” 

Unise, ’n pinksterkind, was deel van die skool se koor. Sy het op die beheerliggaam en die VRL gedien en was ook ’n prefek by die skool. 

“Sy het haar gewig agter elke organisasie gegooi. Sy was rerig ’n leier van formaat. Ek kon sien wat sy eendag vir haar gemeenskap kon beteken. Die samelewing is beroof van ’n opregte leier.” 

Links sê weens die regulasies van die Rampbestuurswet om Covid-19 te bekamp sal die skool nie nou ’n roudiens vir Unise kan hou nie.

“En sy verdien dit. Sy is die een wat altyd gebid en gesing het as ons ’n roudiens vir ontslape leerders gehou het. Nou kan ons nie dieselfde vir haar doen nie.” 

Hy sê Unise se klasmaats en al die graad 11’s is reeds ingelig oor dood. “Wanneer die tyd reg is, sal ons ’n diens hou om haar te vereer.” 

Angelica Eland, ’n vriendin van Unise, sê sy het gesing vir die Here. “Ons (sy en haar man) ken haar die afgelope vier jaar. Sy het verskriklik baie vir ons beteken en was soos my eie kind.

Unise Koopman en Angelica Eland
Unise Koopman en Angelica Eland. Foto Verskaf

Op Facebook stroom die huldeblyke ook in vir Unise.

Ene Jennie skryf: “Sy was ’n lewende engel.”  

Die High Schools Programme wat hom daarmee bemoei om leerders in leier te shape, sê Unise was hul eie Pinkster Kleintjie.

“Sy was altyd gereed om elke geleentheid aan te gryp wat nie net vir haar, maar die hele gemeenskap bevoordeel het.”

 Unise se ma en tannie het Sondag haar lyk uit gaan ken en was nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters