6 dae gelede
Leerder bly tuis
Bors warm: William Young, van Helderbergpark in die Strand is baie ontstoke nadat die Hoërskool Strand sy seun geskors het.  ~ 

BEKOMMERDE ouers van ’n gr. 11-seun in die Strand stres oor hulle seun se skoolloopbaan.

William Young en sy saamleefmaat, Jo-Anne Groenewald, veg nou vir hulle seun se toekoms. Hulle glo vas hy is onregverdig geskors.

Hy was ’n leerder aan Hoërskool Strand, maar lê sedert Oktober laas jaar by die huis.

Hy was aanvanklik vir nege dae geskors nadat hy volgens die skool ’n ander leerder met ’n mes en skêr gesteek het.

Ná die nege dae het die seun voor die beheerliggaam verskyn, maar steeds wou die skool hom nie toelaat nie.

“My kind moes alleen in die hoof se kantoor eksamen skryf. Hulle wou nie eens hê hy moes tussen die ander leerders beweeg nie,” vertel Young.

Volgens die ouers was daar nooit genoegsame bewyse dat hulle seun ’n ander leerder gesteek het nie.

Young meen die skool het geen rede gehad om die kind te skors nie.

Die skool het glo ook beskuldigings gemaak dat die leerder ’n gun skool toe gebring het.

Die ouers is nou hoogs bekommerd. Hulle seun sit tuis terwyl die nuwe skooljaar al begin het. En gr. 11 is een van die belangrikste jare van hoërskool.

Brian Schreuder, hoof van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, sê in die skorsingsbrief as die leerder by ’n ander skool ingeskryf word, sal hy na die distriksgebaseerde bystand­span verwys word.

Dié span sal dan vir hom ’n individuele program uitwerk “vir terapeutiese bystand, insluitend woedebestuur”.

Young meen egter sy seun het nog nooit gedragsprobleme gehad nie.

“Hy is ’n baie stil kind. My seun het ook nie ’n kort humeur nie. Hoe kan hulle nou sê die kind het gedragsprobleme?” vra Young. Hy sê die outjie was selfs op laerskool leier van een van die klubs.

Die ouers hoop om die seun so vinnig moontlik terug op skool te kry sodat hy sy tweede laaste jaar kan voltooi.

Millicent Merton, onderwyswoordvoerder, sê die brief aan die ouers lig hulle in van hulle reg op appèl.

Geappelleer

Merton sê hulle moet by die provinsiale onderwysminister aansoek doen sodat die leerder toegang tot onderwys kan kry.

Ironies genoeg het die ouers selfs ná die spertyd nie teen die skorsing geappelleer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters