3 maande gelede
Verdagte vas wat op gang-unit losbrand
anti-gang unit, anti-bende eenheid
Ses lede van die anti-bende eenheid is in Samora Machel tydens 'n operasie gewond.  ~ Verskaf

'N 26-JARIGE verdagte is Woensdagmiddag in die Paarl gearresteer in verband met die skietery op lede van die anti-gang unit in Samora Machel.

Ses lede van die eenheid is Woensdagoggend tydens ‘n operasie in Nyanga gewond.

Lede van die gang unit was in die Sweet Home Farm-informele nedersetting in Samora Machel om 'n verdagte, wat met onlangse moorde in die omgewing verbind word, te arresteer.

Terwyl hulle vir ander verdagtes gesoek het, is daar vanuit een van die shacks op hulle losgebrand.

Ses lede is gewond waarvan twee ernstig beseer is.

Die polisie sê in ‘n verklaring die omgewing is 'n hide-out vir gevaarlike misdadigers en dat ‘n aantal moorde die afgelope tyd in die omgewing plaasgevind het.

Albert Fritz, Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid, sê hy het met skok verneem van die aanval.

"My opregte dank gaan aan die lede, asook ander polisiebeamptes en wetstoepassingsagentskappe wat ons gemeenskappe met toewyding onder moeilike omstandighede dien," sê Fritz.

"Op dieselfde tyd veroordeel ek ten sterkste die aanval deur naamlose individue wat duidelik 'n omgewing skep waar misdadigheid en moorddadige aktiwiteite die norm word. Ons sal dit nie toelaat om te gebeur nie."

Fritz het die lede wat gewond is 'n spoedige herstel toegewens en beloof om sy ondersteuning te gee om gemeenskappe te beveilig.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters