2 maande gelede
Lawyer sê Tau was by skool
Skaduwee: Karabo Tau gister by die hof is ver van die glamorous sosialemedia-prentjie.  ~ Bohemia Jumatt

DAAR is nou ’n geweldige twist in die ontvoeringsaak van baba Kwahlelwa Tiwane.

Laas week toe die ondersoekbeampte, sers. Solomzi Ngunda, getuig het, het hy gesê die beskuldigde, Karabo Tau, het erken sy het die twee maande oue baba op 15 Januarie ontvoer.

Maar Maandag in kruisondervraging het Tau se prokureur aan die hof gesê sy kliënt was op die dag van die ontvoering by die skool.

Verlaat

Nog ’n verrassing was toe nog ’n beskuldigde, Elly Kubunda (22), vir die ontvoering voor die hof verskyn het.

Kubunda is die verdagte van Parow oor wie Ngunda laas week getuig het.

Hy is deur ’n eks-boyfriend van Tau aan Ngunda uitgewys, het hy getuig.

Tau se prokureur het aan Ngunda genoem dat Tau, ’n matrikulant aan die Hoërskool Claremont, die skool eers 15:15 daardie dag verlaat het.

Hy het aan Ngunda gevra of hy weet hoe lank dit Tau sou neem om vanaf Guguletu, waar sy woon, te travel na Khayelitsha, waar die klaagster woon. Daarna moes hulle nog Parow toe ook ry met die taxi. Ngunda het gesê hiervan is hy nie seker nie.

Tau se prokureur, Sulaiman Chotia, het gesê hy het bewyse in die vorm van ’n brief sowel as CCTV footage van die skool dat Tau wel daardie spesifieke dag op skool was.

Hy het aan Ngunda gevra: “Het jy al ooit met die skool opgevolg of sy daar was?”

Waarop Ngunda gesê het hy het nog nie kans gekry nie oor hy eers die dag voor die borgtog-aansoek die saak ontvang het.

Hy getuig ’n ander span het die voorlopige ondersoek gedoen.

Volgens Ngunda het sy kollega aan hom bevestig die skool het aan hom gesê dat Tau die dag van die ontvoering by die skool was.

Maar Ngunda het getuig hy glo nie sy kollega nie.

Chotia noem toe dat hy die brief as bewys wil oorhandig aan die hof, maar die staatsaanklaer het teen die karre geskop.

Die staatsaanklaer het gesê hy kan nie net die brief aanvaar nie.

Volgens hom kon enige een die brief geskryf het. Hy meen die onderwyser wat die brief geskryf het, moet self voor die hof verskyn.

Die staatsaanklaer het genoem dat hy nie eens na die brief wil kyk nie oor dit ’n invloed op sy posisie in die saak sal hê.

Chotia het gesê dit sal nie in die belang van geregtigheid wees dat sy kliënt langer in aanhouding bly nie.

Maklik

Hy het Ngunda gevra as hy na die timeline kyk of hy sal erken dat hy die verkeerde verdagte in arres het.

Ngunda het gereageer dat hy nie een is wat sommer maklik vir enige iets val nie.

Die tweede verdagte verskyn weer op 3 Februarie in die hof vir borgtog-inligting.

Tau se borgtog-aansoek is tot 4 Februarie uitgestel en sy bly in aanhouding.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters