2 jaar gelede
Lawyer: bevind hulle skuldig
Min dae: Maxwell Davids en Samantha Bailey sal môre weet of hulle skuldig bevind word aan moord. Foto: Tanya Menges  ~ 

SAMANTHA Bailey en Maxwell Davids moet skuldig bevind word aan die moord op ­Hendrik Hugo.

Só het staatsadvokaat Lenro Badenhorst gister in die Kaapse hooggeregshof voor waarnemende regter Leslie Weinkove betoog.

Hugo is op 21 Januarie 2014 in Waterberrysingel in Greenlands, ­Bellville-Suid, doodgeskiet.

Een van Bailey se ­dealers, Jason Pretorius (25), het vroeër teen die twee getuig en gesê Bailey het die opdrag gegee vir die moord op Hugo en Davids het hom geskiet.

Dít was glo oor Hugo drugs in Bailey se territory verkoop het.

Volgens Badenhorst was Bailey ’n swak getuie en kon sy nie verduidelik waar al haar geld vandaan kom nie.

“Sy het ’n platinumkaart van die Grandwest-casino gehad.

“En jy moet ’n turnover van meer as R2 miljoen hê om so ’n kaart te bekom.

“Sy het R40 000 by haar gehad toe sy by die casino gearresteer is.

“En daar is R63 000, drugs en vuurwapens in haar oond gekry,” het Badenhorst betoog.

Hy het ook Davids se alibi-verweer, dat hy by sy ma se huis was en 7de Laan gekyk het toe Hugo vermoor is, verwerp.

Davids se lawyer, Real Kassel, het op sy beurt betoog dat Pretorius die skieter was en dat hy op drugs was toe hy getuig het.

Hy het volgehou dat Davids by sy ma se huis 7de Laan gekyk het toe Hugo geskiet is.

Adv. Joe Weeber, vir Bailey, het betoog dat Pretorius ’n baie swak getuie was en dat die staat nie hul saak bó redelike twyfel teen sy kliënt bewys het nie.

Weinkove sal môre uitspraak lewer.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters