2 maande gelede
Lastig ook op foonlys
Ernie ‘Lastig’ Solomon  ~ Peter Abrahams

“WOU hulle vir my óók doodmaak?”

Dit was die reaksie van Ernie “Lastig” Solomon (62) toe Son hom meedeel dat sy nommer ook op Zane Kilian se ping-lys was.

Die “Ping King” van Springs is steeds in aanhouding vir die sluipmoord op die Charl Kinnear.

Hy het volgens polisiebronne naby aan die moordondersoek reeds erken dat hy Kinnear se selfoon geping het, maar voer aan dat hy onder die indruk was dat dit ene Mohamad se vrou was wat hy getrack het.

Solomon, vermeende voormalige bendeleier van die Terrible Josters, sê hy is nie verbaas om te hoor Kilian het sy foon ook geping nie.

“Baie mense wil my dood hê, want ek is in hul pad.”

Solomon meen die rede hiervoor is omdat hy op ’n vredesforum sit wat bendes wil noop om hul dinge te laat staan.

“Nou maak mense stories op dat ek deel is van ’n perlie sindicate,” laat hoor hy.

Raakgeskiet

Lastig sê hy ken Kilian nie, maar sou like om te weet wie sy baas is.

In Mei het Lastig en sy seun ’n sluipmoordaanval oorleef.

“Hulle het my 10 keer raakgeskiet. My twee law­yers (Pete Mihalik en Noordien Hussain) is ook in sluipmoorde dood ... Maar elke hond kry sy dag.”

JP Smith, mayco-lid vir veiligheid en seker­heid, se nommer is ook geping. Sy nommer is in September vanjaar geping.

Smith het op 16 September vanjaar met hoëkoppe in die polisie, onder wie minister Bheki Cele, vergader oor die uitbuitingkwessie wat in veral die SSK handuit ruk.

Kinnear was aan die stuur van die ondersoek en het in die verlede Nafiz Modack, Colin Booysen, Ashley Fields, Jacques Cronjé en Carl Lackay toegesluit vir die intimidasie en uitbuiting van klubeienaars in die Kaapstad-middestad. Die saak teen hulle is laat vaar.

Kinnear is net twee dae ná die meeting met Cele en Smith koelbloedig doodgeskiet.

Smith het nie op Son se navrae gereageer oor hom wat ook deur Kilian geping is nie.

Kinnear se vrou, Nicolette, genl. maj. André Lincoln en Jeremy Vearey, sowel as meer as die helfte van sy spanlede by die AGU, is ook geping.

Verskeie ander underworld-figure, asook die lawyer­ William Booth, het ook deurgeloop. Modack se nommer is egter nie op die Ping Kingse lys nie.

Van die mense op die lys is reeds geskiet of daar was al ’n aanslag op hul lewe.

Kilian het van Maart tot September meer as 400 mense geping. Kinnear se nommer staan egter uit. Hy is meer as 2 000 keer en byna elke dag geping.

Handgranaat

Die gesoute speurder het geweet dat sy lewe in gevaar is en het om polisiebeskerming gevra. Dit het egter nooit gebeur nie. Eers nadat ’n man met ’n handgranaat voor sy huis in Bishop Lavis gevang is, het beamptes van die AGU self beurte gemaak om na hom en sy gesin te kyk. Die diens is egter afgelas toe die AGU beveel is om dit te stop.

Anders speurders wie se lewe al bedreig is, het die speurdiens verlaat uit vrees vir hul lewe.

Intussen wag Kinnear se familie, vriende en kollegas dat die koppe moet rol van diegene wat beveel het dat sy beskermingsdiens afgelas word.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters