15 dae gelede
Lastig en seun 6 keer getref
AANVAL: Carlo Solomons, die seun van Ernie “Lastig” Solomons, is ook Maandagaand in ’n skietery in Hawston gewond.  ~ Foto Verskaf

ERNIE “Lastig” Solomons en sy seun is Maandag in ’n mislukte sluipmoordaanval in Hawston gewond.

Lastig (62) en sy seun, Carlo (36), is albei tans in ’n stabiele toestand in die hospitaal.

Die opdrag vir die hit op Lastig, gewese 28’s-bendebaas, en sy seun het blykbaar vanuit die tronk gekom.

Jonathan “Blikkies” Thomas (42), een van Lastig se trawante, is dood in die skietvoorval wat omstreeks 19:15 Maandagaand by Lastig se klub in Beach Road, Hawston, gebeur het.

Bulletproof

Lastig is verskeie kere geskiet toe mans in ’n wit Toyota Hilux en ’n rooi Volkswagen GTI op sy nagklub, Octopus, losgebrand het.

Hy is ook die eienaar van verskeie ander eiendomme in die dorp.

Hy is in die rug, regterbeen en linkerarm gewond.

Sy seun is in albei sy arms en regtervoet getref.

Carlo het na verneem word ’n bulletproof vest aangehad.

Die cops het tien koeëldoppies op die toneel gekry.

Volgens lt.kol. Andrè Traut, ’n polisiewoordvoerder, is die motief vir die skietery nog onbekend en niemand is nog weens die voorval gearresteer nie.

Intussen ondersoek die cops ’n moordsaak en twee sake van poging tot moord.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters