2 maande gelede
Laities sit gemeenskap in donkerte
kragboks
ERG BESKADIG: 'N Meisie sit voor n krag boks wat laas week na bewering tydens n kabel diefstal beskadig is.  ~ Jonathan Lestrade

INWONERS in verskeie woonstelle in Clarke Estate is in die donker gelaat nadat vermeende kabeldiewe die kragboks beskadig het.

Die diefstal het die nag van 29 Junie begin en deur die loop van die volgende dag voortgegaan.

Clive Geswindt (59), ‘n inwoner wat in Kingswood-hof woon en namens die geaffekteerde bure gepraat het, sê toe hulle opstaan, was die krag af. 

“Inwoners het deur die loop van die volgende dag gesien hoe die laities aan die deur van die boks trek. Hulle het weer die aand terug gekom en probeer om die kabels te trek, maar het nie dit reggekry nie.

“Hulle het wel teruggekom en begin kap aan die kabels en met van dit weggekom,” sê hy.

Geswindt sê die laities het weer teruggekom Saterdagaand 3 Julie om die res van die kabels uit te kap.

“My vrou het twee van hulle gesien en toe maak hulle asof hulle niks daar doen nie. Maar Sondag toe kry die gemeenskap hulle weer by die boks waar hulle verder gekap het.

“Die vroue in die gemeenskap het hulle gevang terwyl hulle daar besig was.

“Ons het een gevang en daai een het die ander genoem totdat ons uitgevind het daar is ses altesaam, maar die gemeenskap het drie gevind,” vertel hy. 

Volgens Geswindt gee hy nie om wie dit is nie omdat hulle die gemeenskap verontrief het.

“Ons moes kosse gaan weggooi het wat in ons yskaste was as gevolg van wat hulle gedoen het.

“Ons moet gas gaan koop het. Ek het R165 betaal vir ‘n kan gas. Ek weet nie hoeveel kerse ek gekoop het nie. Ek mos lampolie gaan koop het om lig te kry in my huis.

“Ons het krag op ons bokse, maar ons moet gaan geld leen onnodig. Ons is glad nie happy daarmee nie.” 

Geswindt sê die gemeenskap het die polisie gehelp om die vermeende verdagtes vas te vang, maar hulle word nie daarvoor raakgesien nie.

“Ons werk saam met hulle, maar hulle sien dit nie. Eskom vra vir ons samewerking en daar het ons dit gegee, maar ons kry dit nie terug nie,” sê hy.

Slapgat

Geswindt sê Eskom het verlede week uitgekom en foto’s geneem en gesê hulle sal terugkom.

“Hulle het nog nie teruggekom nie. Hulle is slapgat.

“Hulle vat dit ons brand nie tyres nie. As ons tyres gebrand het, sou hulle gou gekom het. Dan was ons almal in die tronk. Dan sou hulle sê ons vat die wet in ons eie hande. 

“Maar ons het saam met hulle gewerk. Die vroumense het die jongens gevang. Eskom het nie vir ons kom dankie sê nie. Dit is waarom ek sê wie-ever hul base is, hulle is slapgat.” 

‘n Eskom-verklaring van 7 Julie lui: “Skaars ‘n week ná die vandalisering van twaalf Eskom-kiosks wat Eersterivier-klante ongeveer vyf dae sonder elektrisiteit gelaat het, het misdadigers drie kiosks in Elsiesrivier geteiken.” 

Redes

Volgens Eskom het verskeie klante in Elsiesrivier om dié rede ‘n naweek sonder elektrisiteit gesit.

Eskom verduidelik misdadigers verbrand die kiosk totdat dit gesmelt het sodat hulle die koper kan verwyder.

Alwie Lester, hoofbestuurder van Eskom se Cape Coastal cluster, sê in die verklaring: “Eskom streef daarna om met al die gemeenskappe te engage wat geraak word deur die plaag van diefstal van infrastruktuur en vandalisme. Dit verswak die gemeenskap en laat hulle kwesbaar vir misdaad.” 

Kyle Cookson, ‘n woordvoerder van Eskom, sê diefstal en vandalisme van Eskom-infrastruktuur en onwettige verbindings is die grootste bedreigings vir die netwerk. Dit het ‘n ernstige impak  op customers se elektrisiteitsvoorsiening.

“Die groot skade aan toerusting en infrastruktuur bepaal hoe lank herstelwerk kan duur en kan lei tot ‘n beduidende vertraging in die herstel van elektrisiteit.

“Eskom-personeel gaan voort met normale maatreëls om die Covid-19-regulasies na te kom,” sê Cookson.

Volgens AO Joseph Swartbooi, ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, ondersoek die Elsiesrivier-polisie ‘n saak van kwaadwillige saakbeskadiging.

Swartbooi het bevestig dat drie 15-jarige verdagtes gearresteer en aangekla is. Hulle sou Maandag 12 Julie in die Goodwood-landdroshof verskyn.

Cookson sê Eskom is nie daarvan bewus gemaak dat die verdagtes (in Clarke Estate) aangekeer is nie. 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters